Witrivier buig die knie in laaste ligawedstryd
Met 17 punte teenoor Middelburg in die eerste kwart van die wedstryd, was Witrivier-ondersteuners seker hulle span sou wen.

Dit het aanvanklik gelyk asof Middelburg se doppie geklink in die Ehlanzeni liga-halfeindronde teen die gasheer Witrivier Rugbyklub is. Rotsvaste verdediging en balle wat wyd versprei is, het die besoekers gewys dat hulle nie sonder ‘n wen sou terugkeer Hoëveld toe nie.
Die tuisspan het tot in die eerste kwart van die wedstryd, gemaklik met 17 punte teenoor Middelburg se leë telbord voorgeloop. Met dié reuseverskil het die handjievol ondersteuners gedink hulle span het die wedstryd in die sakkie.
Eers in die 35ste minuut kon die besoekers daarin slaag om vir die eerste keer in dié kragmeting, punte aan te teken. ‘n Drie gevolg deur ‘n strafskop het die gaping na nege punte verminder. Witrivier-skrumskakel Tjokkie van Tonder het kort daarna vir sy eerste drie van die wedstryd oorgeduik, waarna dit suksesvol deur die losskakel Andy Huysamen verdoel is.
Kort voor rustyd het die besoekers se Elardus Erasmus onder die pale gaan kuier, en na ‘n verdoelde doelskop was die telling 24-15, steeds in die guns van die gasheer. Kort na rustyd, het Middelburg weer agter die doellyn gaan kuier en na nog ‘n suksesvolle doel- en ‘n strafskop deur die pale, het die Hoëvelders vir die eerste ‘n welverdiende voortou geneem, maar, ‘n onderskepdrie het hulle vinning van dié posisie ontneem.
Met slegs 10 minute oor, het Middelburg hul staal gewys deur nog twee drieë aan te teken, wat hulle ‘n oorwinning van 35-32 verseker het.
