Local sportSport

Barberton is Burgemeestersliga-kampioene

Die Impalas was vasbeslote om te wen, maar die spelers van Barberton was net te sterk.

Barberton se top rugbyspelers het Saterdag Komatipoort se Impalas behoorlik afgeransel om as wenners van die Ehlanzeni Burgemeestersliga uit die stryd te tree.
Albei spanne was uit die staanspoort vasbeslote om te wen en die Impalas het daarin geslaag om die eerste punte met ‘n drie aan te teken.
Barberton het daarna geveg om aan hulle kant van die veld te kom, maar is ‘n hele paar keer deur hul opponente gekeer.
Die Impalas het gepoog om nog ‘n paar punte aan te teken deur die bal oor die pale te laat seil, maar sonder sukses.
‘n Speler van Barberton het op ‘n stadium deur die Impalas se verdediging gebreek, maar is ingehaal en platgetrek. Die tuisspan het uiteindelik – na ‘n rukkie se boer naby hul doellyn – die bal oor die doellyn gekry en dit is verdoel vir ‘n halftydtelling van 7-5.
Barberton het daarna met nuwe energie op die veld gedraf en vinnig ‘n drie gedruk. Daarna het die tuisspan die drieë ingeryg, met twee van die vier wat verdoel is.
Die spelers het blitsvinnig deur die gapings geglip en die Impalas moes hard veg om hul agterstand in te haal. Hulle het op ‘n stadium die bal onderskep en weer veld gewen, maar hul ondersteuners se blydskap was van korte duur.
Komatipoort se spelers het al hoe harder geveg om ‘n drie voor die eindfluitjie te druk maar Barberton se verdediging was net te sterk.
Die eindfluitjie het toe na ‘n koud en winderige wedstryd geblaas met ‘n eindtelling van 36-5.
Dit was ‘n uitstekende afsluiting vir die span se suksesvolle seisoen, aangesien hulle ook ver voor op die liga se punteleer, met 43 punte, was.
Spanne in die liga gaan voortaan ook in ‘n oorkruis-uitklopreeks meeding, met die wenners van die Hoë- en Laeveld wat vir ‘n kampioentrofee sal speel. Die kampioen sal daarna teen die nommerses-geplaasde Premierliga-span speel vir ‘n plek in die hoër-liga in volgende jaar se reeks.
Barberton Rugbyklub wil graag al hul ondersteuners bedank wat die hele seisoen langs die veld hulle aangemoedig het, asook die borge wat die eindstryd help moontlik maak het: Obaro, NTT Toyota en Barberton Ford.

Jaundré Laubscher.
Jaundré Laubscher.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button