Kolwe swaai tydens krieketweek
Meer as 36 spanne van 11 skole kon tydens die Trevor Smith-krieketweek op 'n kompeterende vlak met mekaar meeding.

Laerskool Witrivier het verlede week verskeie skole vir die land se grootste laerskole-kriekettoernooi ontvang. Met meer as 36 spanne van 11 skole, het die Trevor Smith-krieketweek die perfekte geleentheid gebied om spelers se vernuf te ontwikkel en die seuns kans te gee om wedstryd-oefening te kry. Wat aanvanklik in 2008 as die gasheer se oefenweek begin het, het begin groei toe die Goedehoop en Klipfontein skole by hulle aangesluit het.

Vandag bestaan die toernooi uit meer as 60 wedstryde, en mik om nóg meer skole te betrek. Volgens die organiseerder Iaan Jacob, is die perfekte geleentheid vir skole om op ‘n kompeterende vlak teen mekaar mee te ding. Verskeie skole, wat Rob Ferreira, Penryn, Laerskool Nelspruit, Bergland, Nelspruit Primary, Laerskool Laeveld en natuurlik Laerskool Witrivier insluit, het hulle velde beskikbaar gestel vir die toernooi.
“Hoewel die wedstryde nie noodwendig oor wen of verloor nie gegaan het nie, was daar ooglopende uitblinkers. Jaque Stassen van Laerskool Witrivier was die enigste speler wat daarin kon slaag om 108 lopies aan te teken. In sy tweede vennootskap met Henno Hattingh het hulle ‘n indruk-wekkende 168 lopies aangeteken,” sê Jacob. Hy voeg by dat Midstream se o/10s die spanne goed opdraande gegee het. ‘n Volledige lys van uitslae sal op www.lowvelder.co.za beskikbaar wees.

