Oudleerlinge van NHS op pad na Franse velde
Twee voormalige rugbyspelers van Hoërskool Nelspruit is eersdaags op pad na Frankryk.
Christiaan Erasmus (21) het in 2013 by NHS gematrikuleer en het reeds verlede jaar by Stade Niortais aangesluit. Hy het vir ‘n tweede seisoen by die klub geteken.
‘n Agent het Jean-Claude Fourie (22) ‘n paar weke gelede geskakel met die goeie nuus dat die klub nóg ‘n Suid-Afrikaanse speler soek en so het hy onlangs ‘n kontrak met State Niortais geteken.
Erasmus en Fourie het in 2015 hulle eerste wedstryd saam gespeel in die Varsitybeker. Albei is na skool Bloemfontein toe waar hulle vir die Cheetahs se o/19- en o/21-spanne uitgedraf het.
Rassie van Vuuren wat ook ses jaar sy rugby in Frankryk gespeel het, het Erasmus op skool raakgesien en hom in kontak met ‘n Franse-agent gesit.
“Frankryk was nog altyd my eerste opsie. Ek het nooit twee keer gedink om te gaan nie. Net voor die halfeindstryd van die o/21’s se Curriebekerseisoen het ek gehoor ek moet oor twee weke by die klub aansluit. Dit is lekker om ander sisteme te leer ken en vir my rugbyloopbaan beteken die geleentheid baie. Oor ‘n jaar sal ek vlot Frans kan praat,” sê Erasmus.
Fourie het reeds in gr. 11 vir NHS se eerste rugbyspan op oopkant-flank uitgedraf. Hy was ook deel van die o/19 Pumas Platteland, maar het nooit by Cravenweek gespeel nie. Hy wou oorspronklik eers na skool na die Haaie toe gaan, maar die Cheetahs was daardie tyd die beter opsie. Dié flank het aan die einde van 2013 sy ligamente geskeur en in 2014 het hy geen rugby gespeel nie. Die volgende jaar het die o/21’s in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Westelike Provinsie op Emirates Airline Park die knie moes buig.
Hy was ook in die Cheetahs se senior groep vir die Curriebeker ingesluit. “Ek het ongelukkig my skouer seergemaak en moes vir ‘n operasie gegaan het. Mits sake nie in Frankryk uitgewerk het nie, sou ek teruggegaan het Cheetahs toe, maar dit was nog altyd in my agterkop om rugby in Frankryk of Amerika te speel.
“Dit voel nog so onwerklik, maar ek weet sodra ek op die vliegtuig sit, gaan die realiteit inskop,” vertel Fourie.
