Bulle se Brummer maak sy debuut vir die Pumas
Marlou van Niekerk het laas teen die ORC Griekwas op binne-senter vir die Steval Pumas begin en dra vanaand wéér die no. 12-trui wanneer die span teen die Cell C Sharks op Mbombela Stadion uitdraf.
Die Blou Bulle se Francois Brummer maak sy Curriebeker-debuut vir die Pumas op losskakel.
Brummer wat in 49 wedstryde vir die Bulle en 72 wedstryde vir die Griekwas in dié kompetisie gespeel het, was ook deel van die Suid-Afrika A-span wat vroeër vanjaar teen die Engeland Saxons toerspan gespeel het. Hy het vanjaar 15 Superrugbywedstryde vir die Bulle gespeel waarvan hy 111 punte aangeteken het.
Spoedvraat, Marcello Sampson wat nie vir die Pumas se vorige wedstryd teen die Griffons beskikbaar was nie, skuif van linker- na regtervleuel. Hennie Skorbinski is ook weer slaggereed en vervang vir Deon Helberg op buite-senter wat na die plaasvervangersbank toe skuif.
“Met Robert du Preez wat as die Sharks se Curriebeker-afrigter aangewys is, verwag ons ‘n verandering in hulle spelpatroon. ‘n Hele paar van die spelers het ook Superrugby-ervaring, maar ek glo ons het goed voorberei,” sê die Pumabreier, MJ Mentz.
Lees ook: Keegan Daniel named as Sharks captain for Currie Cup
Carel Greef skuif terug na sy posisie as agtsteman en Stephan Greeff vervang vir Wiehan Hay op slot.
Keegan Daniel wat die Sharks in 58 wedstryde aangevoer het, is vroeër die week as kaptein vir die reeks aangewys. Junior Springbok, Curwin Bosch begin op losskakel en die ervare Chiliboy Ralepelle is op die bank.
“Om die reeks op ‘n hoë noot af te skop, is vir ons baie belangrik daarom het ons ‘n goeie kombinasie van jonk en ervare spelers. Die Pumas kan nie ligtelik opgevat word nie,” het die afrigter van die Sharks, Du Preez gesê. Die wedstryd skop om 19:20 af.

