Beserings kniehalter die Pumas
Namibië se kaptein, Renaldo Bothma wat eers vir sy geboorteland in die CAR Afrikabeker diens gedoen het, het Maandag by die Steval Pumas aangesluit.
Sy kontrak by die Mpumalanga Rugby Unie (MRU) verstryk aan die einde van die Curriebeker-premierliga.
‘n Rits Pumaspelers het tydens Vrydagaand se kragmeting teen die Cell C Sharks op Mbombela Stadion, beserings opgedoen, maar hulle behoort vir Saterdag se wedstryd teen die Xerox Goue Leeus in Johannesburg reg te wees.
Die Sharks het die Pumas met 33-10 afgeransel nadat die tuisspan rustyd met net 14-10 agter was. Die enigste vyfpunter vir die Pumas is in die 27ste minuut deur Frank Herne na ‘n lynstaan aangeteken.
Francois Brummer, wat sy debuut in ‘n Pumatrui gemaak het, was met ‘n strafskop en ‘n doelskop suksesvol.
Lees ook: Bulle se Brummer maak sy debuut vir die Pumas
Die Sharks het in die laaste 20 minute in die eerste ronde van die premierliga, drie vinnige drieë gedruk.
“Meeste van die Sharksspelers het na afloop van die Superrugby by die Curriebekerspan aangesluit, so ons het geweet dit gaan ‘n tawwe stryd wees. Hulle het ons ore by die vastefasette aangesit en ons het gesukkel om posisie te bekom. Daar was ‘n paar goue oomblikke, maar die Sharks het ons in ons veldgebied gehou wat dit vir ons moeilik gemaak het om ons wedstrydplan uit te voer,” het die Pumabreier, MJ Mentz gesê.
Spelers wat las van beserings het is, Brummer, Marnus Schoeman (elmboog), Marlou van Niekerk en Stephan Greeff (skouer), Justin van Staden (rugspasma) en Reynier van Rooyen (kuit), maar behoort later die week die regmerkie te kry.
‘n Stukkie goeie nuus is dat Hoffmann Maritz die week weer kan begin oefen na ‘n geskeurde skenkelsening.
Marné Coetzee en Nardus van der Walt (albei se knieë) behoort ook die week by hulle spanmaats aan te sluit.
“Ons het die reeks met ‘n verloor begin. Die week sal ons aan ‘n paar probleemareas werk,” sê Mentz.
Vincent Koch, wat veronderstel was om na afloop van die Superrugby-reeks na die Pumas terug te keer, het Saterdag ‘n oproep na die Springbokgroep vir die Castle Lager Rugby-kampioenskap gekry.
Lees ook: Koch invited to a Springbok rehabilitation and conditioning camp
Die Bokke speel Saterdag 20 Augustus teen Argentinië op Mbombela Stadion.
So het die ander Curriebekerspanne gevaar
• Blou Bulle 46 vs. Westelike Provinsie 26
• Boland Kavaliers 16 vs. Vrystaat Cheetahs 44.



