Pumas bekom dienste van Superspelers
Die Leeus se Curriebekerkaptein, Ruaan Lerm het 'n tweejaarkontrak met die Mpumalanga Rugby Unie gesluit.

Dié 24-jarige het in 2014 sy Superrugby-debuut vir die Emirate Lions van die plaasvervangersbank teen die Cell C Sharks in Durban gemaak.
Die Pumas verwelkom 1 November nóg drie nuwe spelers, die OP Kings se Kevin Luiters, Louis Albertse en Karlo Aspeling.
JP Lewis en Devon Williams (albei van Westelike Provinsie) en Rassie van Vuuren (Atlantique Stade Rochelais) is ook van die nuwe gesigte in die Pumakorps.
Lees ook: Drie nuwes vir Pumas
Voormalige leerder van EG Jansen, Lerm was skaars twee jaar uit die skool toe hy sy debuut op seniorvlak gemaak het. Hy het die Valke op o/16- en o/18-vlak verteenwoordig. Lerm het sedert 2011 vir die Leeus gespeel waar hy o/19-Curriebeker, Vodacombeker en op seniorvlak in 2013 in die Curriebeker-premierliga gespeel het. Skrumskakel van die Baai, Luiters het ook Superrugby-ervaring toe hy vir die Toyota Vrystaat Cheetahs in 2014 gespeel het. Die 24-jarige het ook saam met die Blitsbokke in 2012 na die Sewesreeks in Dubai getoer.

Albertse, wat reeds saam met die Pumas oefen, sal op stut sak. Hy het vir KwaZulu-Natal se o/18 Coca-Cola Cravenweek gespeel en is na skool in 2009 ook na die Johannesburgers. Albertse het twee jaar vir die Bulle gespeel en het daarna ook vir die Kings.
Losskakel van die Hino Valke, Aspeling wat ook verlede jaar vir die Kings se Curriebeker uitgedraf het, het reeds by die Pumas aangesluit.

