Local sportSport

Bothma is terug vir die Pumas

Superrugby-speler, Renaldo Bothma is in die Steval Pumas se beginspan vir Saterdag se Curriebeker-premierliga kragmeting teen die Xerox Goue Leeus op Emirates Airline Park in Johannesburg ingesluit.

Bothma, wat eers vir die Haaie en toe later vir die Blou Bulle in die Superreeks gespeel het, het Maandag by die Pumas aangesluit. Hy het Namibië verlede jaar in die Rugby Wêreldbeker verteenwoordig en was tot onlangs toe nog in die buurland vir die CAR Afrikabeker.

“Dit is wonderlik om Renaldo terug in ons midde te hê. Hy bring baie ervaring asook fisieke krag na die spel, iets wat ons gaan nodig hê vir ons wedstryd teen die Leeus,” het die Pumabreier, MJ Mentz gesê.

Lambert Groenewald wat las van ‘n kuitspier het, maak plek vir Nardus van der Walt wat die wedstryd teen die Cell C Sharks weens ‘n knie-ligamentbesering misgeloop het.

Nuut-gekrontrakteerde speler vir die Pumas, Louis Alberts wat destyds vir KwaZulu-Natal o/18 Coca-Cola Cravenweek gespeel het, vervang vir De-Jay Terblanche op vaskopstut wat na die plaasvervangersbank toe skuif.

Slot, Stephan Greeff, wat ook na die Sharkswedstryd ‘n besering opgedoen het, word deur Wiehan Hay vervang.

“Ons voorspelers was onder groot druk teen die Sharks. Dit het ons genoodsaak om verandering aan die span aan te bring. ‘n Paar van die spelers klop reeds geruime tyd aan die deur en nou is hulle kans om te wys wat in hulle steek,” het Mentz gesê.

Marcello Sampson skuif terug na linkervleuel toe en JP Lewis sal op regtervleuel uitdraf. Jannie Stander vervang vir Jacques Kotze op die plaasvervangersbank.

“Die Leeus sal op hulle sukses in die Superrugby wil voortbou. Ons sal ons sokkies moet optrek en op die vaste fasette konsentreer omdat ons nou op ‘n hoër vlak meeding,” vertel Mentz.

Pumas
15. Justin van Staden
14. JP Lewis
13. Hennie Skorbinski
12. Marlou van Niekerk
11. Marcello Sampson
10. Francois Brummer
9. Reynier van Rooyen
8. Renaldo Bothma
7. Nardus van der Walt
6. Brian Shabangu
5. Hugo Kloppers
4. Wiehan Hay
3. Louis Alberts
2. Francois du Toit
1. Khwezi Mona
Plaasvervangers: Frank Herne, De-Jay Terblanche, Jannie Stander, Carel Greeff, Emile Temperman, Deon Helberg, Devon Williams.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button