Local sportSport

Rolbalspelers van regoor SA kuier saam by Selati Toernooi

Rolbalspelers van orals in die land het hierdie week in Malalane gekuier om aan die gewilde Selati Toernooi deel te neem.

Die Malelane Rolbalklub se gronde is hierdie week ‘n miernes van bedrywigheid tydens die gewilde Selati Rolbaltoernooi.

Dit is die 32ste jaar wat die klub die week lange toernooi aanbied en deur die jare het die belangstelling net aanhou groei. “As die mense hier ry, skryf hulle klaar hulle name op vir volgende jaar. Ons het omtrent ‘n waglys,” sê die klub se Stephen Venter tong in die kies.

Veertien spanne met ongeveer 56 lede, wat die baan se maksimum is, neem hierdie jaar deel en spelers kom van oraloor: Betlehem, Reitz, Rustenburg, Pretoria, Groblersdal en Naboomspruit.

Venter vertel dat die toernooi ‘n reputasie as ‘n besondere geleentheid het en dit slegs deur word of mouth bemark word.

Die toernooi het Maandagoggend afgeskop en sluit Saterdagaand met ‘n prysuitdeling en ete af. Daar sal elke dag twee of drie rondes gespeel word, waar die spanne van vier wedywer om die meeste punte aan te teken.

Die spel het ‘n rondomtalie-formaat en elke ronde bestaan uit 15 koppe. Spanne kan vier punte vir elke ronde-oorwinning kry en een punt vir elke kop-oorwinning.

Woensdagoggend was daar groot pret met ‘n “Shower Party” wat in die oggend plaasgevind het. Spelers het vroegoggend in uitrustings wat by die tema pas opgedaag en die dag so gespeel. Die middag was daar ‘n braai by die Krokodil-lapa en daar is baie gelag tydens ‘n geskenkuitruilspeletjie.

Elke persoon het ‘n nommer getrek en kon ‘n geskenk oopmaak. Die volgende persoon kon dan hulle skenking uitruil vir ‘n vorige ene, wat tot baie pret gelei het.

Saterdagaand gaan die groepie weer vermaak verskaf as hulle volgens die Italian Mobsters-tema vir die prysuitdeling aantrek. Selfs die spyskaart gaan ‘n Italiaanse geur hê en sal deur die gholfklub se restaurant, wat ook die middagetes deur die week verskaf het, voorberei word.

Venter vertel dat die Malelane Rolbalklub net ‘n paar lede het, van wie die meeste aan die Mpumalanga-span behoort, wat getuig van die klublede se vaardigheid.

Die lede kom Woensdagaande en Saterdagmiddae byeen om te oefen en braai daarna saam. Daar is ook ‘n kontantkroeg beskikbaar.

Belangstellendes word genooi om aan te sluit, oud en jonk is welkom.

Die klub huur gereeld hul fasiliteite uit aan skoolgroepe en besighede wat rolbal as ‘n spanbouaktiwiteit wil speel of vir jaareindfunksies. Die balle kan ook gehuur word.

Navrae: Piet Smith by 083-564-3025 of Stephen Venter by 082-451-1715.

Kyk na foto’s van die byeenkoms hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button