Local sportSport

Gewilde fietswedren lok weer ryers van alle ouderdomme

Honderde deelnemers tussen sewe en 70 het Saterdag die gewilde Nkomazi MTB Challenge in Malalane aangedurf.

Byna 400 fietsryers het Saterdag met ‘n vaart by Laerskool Malelane weggespring vir die gewilde Nkomazi MTB Challenge.

Deelnemers was tussen die ouderdomme van sewe en 70 en het die 10km, 19km, 35km of 65km aangedurf. Bergfiets-entoesiaste van verskillende fiksheidsvlakke geniet elke jaar die pragtige wedren en die kameraderie wat daarmee saamgaan.

Die roetes het deur die dorp, bos en suikkerrietlande gekronkel en deelnemers is langs die pad deur bemanning van die waterpunte aangemoedig en verkwik. Die weer was ook wonderlik, met koue oggendtemperature wat vinnig gestyg het, blou lug en slegs ‘n ligte windjie wat gewaai het.

‘n Paar fietsryers het hard geval of het fietsmoeilikheid gehad en moes die laaste ent na die eindstreep hinkepink of hulle fietse dra.

Vir die toeskouers, ouers en moeë deelnemers was daar heelwat kosstalletjies en tente met interessanthede vir oud en jonk soos juwele, pruike en speelgoed.

Twee kunstenaars het ook die gehoor vermaak met bekende treffers en kinders het gereeld om die aankondiger gedrom wat penne, sakke en hoede uitgedeel het.

Deelnemers en toeskouers het ‘n kans gestaan om ‘n Venter-waentjie, asook een van ‘n paar fietse te wen.

Daar was meer as R70 000 se kontantpryse en die wenners van die onderskeie kategorieë het met lemoene en ‘n pakkie vol interessanthede weggestap. Deelnemers is in senior, sub-veteraan, veteraan, meester, sprog, nipper, sub-junior en ope-kategorieë ingedeel.

Die hoofborge was Malalane Toyota en RCL Foods, met ‘n lys ander borge wat ook ‘n bydra gelewer het en Laerskool Malelane bedank graag hulle en almal wat ‘n handjie bygesit het om die dag suksesvol te maak.

Uitslae:

 65km 

Max Knox was eerste met ‘n tyd van 2:23:08, gevolg deur Gawie Combrinck met 2:27:12 en Heine Engelbrecht met 2:29:20.

Onder die vroue was Emily Clarke eerste met ‘n tyd van 3:03:59, Vivienne Turvey was tweede met 3:17:34 en Jo Mari Smith was derde met 3:28:48.

35km

Werner Kammeyer was eerste met ‘n tyd van 1:15:04, Emile Fourie tweede met 1:15:06 en Hanru Lubbe derde met 1:15:17.

Sandri Strydom was eerste onder die vroue met ‘n tyd van 1:27: 43, Jeanette Treherne was tweede met 1:35:54 en Juanita Kammeyer derde met 1:38:15.

19 km

SA-kampioen Jooste Coetzee was ver voor die ander deelnemers en het eerste gekom met ‘n tyd van 45:59. Franco Kritzinger was tweede met 47:56 en Francisco Nhantumbo derde met 47:59.

Neliza van Niekerk was die eerste vrou met 55:45, gevolg deur Jessica Svacha met 57:42 en Lnika Leuvennink met 59:03.

10km

Terence Terblans was eerste met ‘n tyd van 32:31, JJ Herbst tweede met 36:16 en Johan Horn derde met 37:03.

Die eerste drie vroue was Shanei Mostert met ‘n tyd van 40:43, Marizanne Barwise met 40:47 en Lana Bezuidenhout met 40:52.

Vir meer foto’s van die resies, klik hier en van die prysuitdeling en wenners, klik hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button