Local sportSport

Skuts skiet ses eerste plekke los

Vir die Laeveld was die agtjarige Sabastiaan Lamprecht, wat vanjaar aan sy derde nasionale kompetisie deelgeneem het, die jongste skut.

Die SA Sport en Jagfederasie se nasionale baansport- kampioenskappe is die afgelope naweek by Regiment Botha-skietbaan, Dusty Ranch gehou.

Die Laevelders is nie net op die baan met hul skelpienk-hemde onderskei nie, maar ook op die telbord deurdat hulle ses eerste plekke, teen van die land se bestes losgeskiet het. ‘n Verdere drie tweede en sewe derde plekke is ook behaal.

Om te kwalifiseer vir die kampioenskappe, moes skuts aan ten minste drie provinsiale kompetisies deelneem met ‘n gemiddelde resultaat van meer as 60%, en ook natuurlik die span haal. In elke sogenaamde dissipline kan ‘n provinsie drie spanne per ouderdomsgroep inskryf wat uit drie lede bestaan.

Die verskillende dissiplines is jaggeweer (25-200m), langafstand (200-500m), kompakte handwapen, standaard-handwapen, ope-klas handwapen, .22, haelgeweer, veergeweer, luggeweer (CO2), lugpistool, boog (penne) en boog (teleskoop).

Vir die Laeveld was die agtjarige Sabastiaan Lamprecht die jongste skut. Hy het vanjaar aan sy derde nasionale kompetisie deelgeneem, en het ‘n derde plek in die .22-afdeling behaal. Oom Felix Pohl (69) was die Laeveld se oudste skut. Hy het in beide die luggeweer (veer) asook die opeklas-handwapen ‘n eerste plek behaal, hy was tweede in die standaard-handwapen en derde in die grootgeweer-afdeling.

Onder die penkoppe (13 jaar en jonger) het Layton Hoffman eerste plek in die langafstand behaal. Rika Human was met haar luggeweer (veer) eerste, asook Nico Human met sy lugpistool en Faans van Zyl met sy kompakte handwapen.

Die hoogtepunt van die byeenkoms was die 500m-langafstand toe Nico Predikus met slegs die beligting van ‘n ligfakkel, moes spook om ‘n tweede plek te behaal nadat hy en Henri de Kock van Noordwes gesamentlik tweede geëindig het. De Kock het egter koning gekraai en Predikus moes met ‘n derde plek tevrede wees.

Almal wat deelgeneem het, kry provinsiale kleure en diegene wat eerste posisies behaal het, kry nasionale kleure indien die skuts se gemiddeld in die dissipline vir die twee dae bo 70% was.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button