Bokke gaan Poemas geensins onderskat
Oortuigend was dit nie, maar twee drieë in die laaste 10 minute van die Springbokke se kragmeting teen Argentinië Saterdag op Mbombela Stadion, het uiteindelik die wen van 30-23 vir die Bokke besorg.
Voor die Bokke hulle impakspelers, Jaco Kriel, Pieter-Steph du Toit en Steven Kitshoff in die 53ste minuut opgestuur het, was hulle 10-13 agter.
“Dit was nog altyd die plan om die plaasvervangers as impakspelers te gebruik. Hulle het gedoen wat van hulle verwag was en hulle het die wedstryd deurgehak,” het die Bokbreier, Allister Coetzee na afloop van die wedstryd gesê.
Die naweek se tweede toets in die voorstad van Argentinië, Buenos Aires gaan geen piekniek vir die Bokke wees nie. Met net 14-man op die veld nadat Argentinië se Manuel Montero koelkas toe vir ‘n gevaarlike duikslag gestuur is, het die senter Matias Orlando vir die besoekers se eerste vyfpunter oorgeduik.
Sien ook: Duisendes daag op om Bokke te ontmoet
“Ons sal hulle nooit onderskat nie. Dit was ‘n geveg tot die einde toe. Daar is baie om aan te werk. Daar was onnodige omgekeerde balbesit en ons het baie gebiedsvoordeel verloor. Ons kon nie aan die bal vashou nie,” het die Bokke se kaptein, Adriaan Strauss gesê.
Losskakel van die Springbokke, Elton Jantjies het in die 54ste minuut ‘n strafskop deur die pale geskop om die telling 13-elk te maak.

Met net 13 minute oor, het Santiago Cordero sy span weer ‘n voorsprong gegee met Nicolas Sanchez wat die drie verdoel het.
Johan Goosen, wat vier jaar laas die Boktrui oor sy kop getrek het, het in die 71ste minuut oor die doellyn geduik met Jantjies wat verdoel het. Daarna het Argentinië ‘n strafskop afgestaan en die telling was weer gelyk met 23-elk. Coetzee besef dat dit nie ‘n mooi wen vir die Bokke was nie, maar hy was wel tevrede met die laaste 15 minute van die spel. “Die druk was daar, en ek voel ons verdediging was goed gewees.”
Julian Redelinghuys het nie gister op die vliegtuig saam met die Springbokke na Argentinië vir die tweede Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Poemas geklim nie. Die vaskopstut het vroeg in die eerste helfte ‘n dyspierbesering opgedoen, en kan tot ses weke langs die kantlyn wees.
“Dit is ‘n groot terugslag vir ons. Ek was beïndruk met Vincent Koch toe hy van die plaasvervangersbank afgekom het. Met die dat Julian beseer is, maak die deure vir Vincent oop,” het Coetzee gesê.
Die wedstryd skop om 21:40 Suid-Afrikaanse tyd af.
Foto’s: Riaan Swanepoel, Hennie Homann, Johan Orton en Heinrich Human.




















