Local sportSport

Van Puma-speler tot die Laeveld se Springbokheld

Die hartklop van Laeveld-rugby, Faf de Klerk is na afloop van die Springbokke se sege oor Argentinië, as die speler van die wedstryd aangewys. Die Bokke het die Poemas onoortuigend met 30-23 geklop.

“Ons het nie ‘n wêreldklasstadion soos Mbombela toe ek grootgeword het, gehad nie. Die kans om voor my familie en vriende te kon speel, voel eintlik nog onwerklik,” het De Klerk gesê.

Lees ook: Twee Pumas dalk eersdaags deel van die Bokke

Dié voormalige Pumasspeler het reeds van o/9 af vir Laerskool Bergland se A-span gespeel en was ook Bergies se eerste rugbyspankaptein. Sy pa Tobie, en president- en bestuurder van Nelspruit Rugbyklub Herklaas du Preez, het die blondekop in gr. 8 en -9 by Hoërskool Nelspruit afgerig voordat hy Hoërskool Waterkloof toe is.

“Hy het oorspronklik nie met die doel om rugby te speel Pretoria toe gegaan nie, maar hy wou daardie tyd graag vir Noord-Transvaal krieket gespeel het,” vertel Du Preez. “Ek kan onthou op skool het hy sulke goeie maniere gehad en hy was, en is, steeds ‘n baie hardwerkende sportman. Hy speel goeie rugby en het onder die afrigting van Jimmy (Stonehouse), toe hy nog vir die Pumas gespeel het, as speler baie gegroei. En dit is die rede waarom hy nou die vrugte daarvan pluk,” sê Du Preez.

Dié 24-jarige het nooit op laerskoolvlak Cravenweek gespeel nie, maar het wel in gr. 10 Grant Khomo gespeel, en in matriek is hy vir die Blou Bulle en SA o/18 Akademie-span gekies.

faf 1
Blou Bulle o/18 Akademiespan.
Blou Bulle o/18 Akademie-span.
SA o/18-Akademiespan.

“Natuurlik is ons geweldig trots op ons seun. Klofies het in 2008 die Beeld-trofee omhoog gehou en die volgende jaar teen Hoërskool Monument in die eindstryd vasgeval. Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir ons kind inhou nie,” vertel Tobie.

Lees ook: Vyf nuwelinge gaan Pumas meer diepte gee

De Klerk het sy Springbokdebuut vroeër vanjaar teen Ierland op Nuweland, Kaapstad, gemaak. Stonehouse het hom sedert gr. 10 afgerig.

Stonehouse, wat tans hulpafrigter van die Toshiba Brave Lupus in Japan is, het gesê De Klerk se murg in sy pype en sy lewenslus, is wat hom Faf de Klerk maak.

Jimmy Stonehouse.
Jimmy Stonehouse.

 

“Van skool af, was hy nog altyd ‘n talentvolle speler. Die feit dat hy saam met kwaliteitspelers speel, gee vir hom die nodige selfvertroue en dit maak sy besluitneming soveel makliker. Sy spel het meer volwasse geword en sy besluitneming vinniger. Hy het iets besonders in hom wat niemand vir hom kan leer nie,” het Stonehouse gesê.

Hy is by uitstek Suid-Afrika se beste skrumskakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button