Pumas is vol hoop vir ‘n wedstrydwen
Vaskopstut, Marné Coetzee keer na drie maande, na 'n kniebesering wat hy vroeër vanjaar teen die Namibiese Welwitchias opgedoen het, terug vir die Steval Pumas vir vanmiddag se wedstryd teen die Boland Kavaliers.
Ruwellyn Isbell wat vyf maande op die krukkelys was, nadat hy sy hand in die Pumas se eerste Curriebeker-kwalifiserende wedstryd teen die Hino Valke gebreek het, kan moontlik van die plaasvervangersbank opdraf.
Lees ook: ‘n Derde van Puma-span maak hul buigings
Jannie Stander sal die nommer 4-trui oor sy kop trek met Hugo Kloppers wat weer in die beginspan is.
Stut, Jacques Kotze vervang vir Khwezi Mona op die plaasvervangersbank nadat Mona tydens ‘n oefening hierdie week sy enkel geswik het.
“Week in en week uit besef ons dat daar een of ander vorm van druk sal wees. Ons wil gemotiveerd bly sodat ons voor elke nuwe wedstryd, ‘n nuwe blaadjie kan omslaan,” het die Pumabreier, MJ Mentz gesê.
Die Pumas, wat na drie wedstryde nog nie aan die wenkant was nie, het tog na verlede Vrydagaand se kragmeting ‘n beter vertoning gelewer. “Na die aansienlike beter rugby wat ons teen die Griekwas gespeel het, glo ek ons het ‘n goeie kans vir ‘n oorwinning teen die Boland. Die Kavaliers is ‘n goed opgeleide en ervare span.”
Lees ook: Pumas se Fisher druk wendrie teen Cheetahs
Die enigste verandering aan die agterlyn, is ‘n nuwe senterpaar met Tyler Fisher en Leighton van Wyk nadat Hennie Skorbinski las van ‘n dyspierbesering het.
Pumas
15. Devon Williams
14. Bernado Botha
13. Tyler Fisher
12. Leighton van Wyk
11. JP Lewis
10. Francois Brummer
9. Emile Temperman
8. Renaldo Bothma
7. Nardus van der Walt
6. Marnus Schoeman
5. Hugo Kloppers
4. Jannie Stander
3. Marné Coetzee
2. Frank Herne
1. De-Jay Terblanche.
Plaasvervangers: Simon Westraadt, Khwezi Mona, Wiehan Hay, Lambert Groenewald, Kevin Luiters, Marlou van Niekerk en Ruwellyn Isbell.
