Vierde loesing, paadjie word nie makliker
Die Steval Pumas se Curriebeker-paadjie word van hier af glad nie makliker nie.
Die Vodacom Blou Bulle wag Saterdagaand op Mbombela Stadion vir die Pumas met die Westelike Provinsie en die Toyota Vrystaat Cheetahs wat ook op die span se spyskaart is.
‘n Oortuigende sege van 25-22 vir die Boland Kavaliers Vrydagmiddag in Wellington teen die Laevelders was dit nie. Skeidsregter, Marius van der Westhuizen het die Pumavleuel, Tyler Fisher met ‘n rooikaart in die 26ste minuut van die veld afgejaag nadat hy die Bolandspeler, Gerrit van Wyk met sy elmboog gekarnuffel het.
Lees ook: Pumas se Fisher druk wendrie teen Cheetahs
Pumabreier, MJ Mentz se span het weliswaar vier drieë gedruk en het twee punte uit die wedstryd gevat.
“Ons het heeltemal te veel geleenthede in die eerste helfte prysgegee, maar ek voel steeds die manne het beter rugby in die tweede helfte gespeel. Van hier af raak dinge nie makliker nie en ons sal ‘n manier moet kry om ons spelpeil heelwat te verbeter,” het Mentz gesê.
Haker Frank Herne het die Pumas se eerste drie van die kragmeting gedruk, maar Francois Brummer het nie die drie verdoel nie. Die Pumas het hul beste rugby van die wedstryd in die tweede helfte gespeel en driëë is deur Renaldo Bothma, Leigton van Wyk en die reserwe-skrumskakel Kevin Luiters gedruk.
Die grondslag vir dié terugvegpoging nadat die Pumas rustyd met 13-5 agter was, is egter deur die impakspelers van eers Jacques Kotzé, Lambert Groenewald en later Wiehan Hay gelê.
Nóg twee Pumas is op die beseringlys, met Nardus van der Walt wat tussen ses en agt maande buite aksie gaan wees nadat hy sy knieligament geskeur het, en Hugo Kloppers wat met ‘n skouer sukkel.
Lees ook: Pumas’ full-back out for the rest of the season
Saterdag se wedstryd skop om 19:10. af. Kaartjies kan teen R60 vir volwassenes en R10 vir skoliere by Computicket of by die stadion aangekoop word.
So het die ander spanne gespeel:
• Blou Bulle 31 vs. Goue Leeus 17
• Cheetahs 57 vs. OP Kings 25
• Westelike Provinsie 34 vs. Cell C Sharks 27.
Foto’s: Frans le Roux/Paarl Post


















