Barberton se eerstes laat Nellies les opsê
Met 52 lopies is DJ Raulstone as die beste kolwer aangewys.
Umfofo se eerste krieketspan van Barberton Hoërskool het Hoërskool Nelspruit behoorlik laat les opsê toe hulle hul opponente met 70 lopies gewen het. Dit was tydens velede naweek se wedstryd wat op Barberton se tuisveld plaasgevind het.
BHS het eerste gekolf en 172 lopies aangeteken in 50 beurte vir die verlies van sewe paaltjies. DJ Raulstone is as die beste kolwer aangewys met sy 52 lopies.
Die res van die span het hul deel gedoen en Herchelle Naidoo het 27 lopies ingepalm, Divan Pearson 18, Joandré Jooste het 15 lopies, nie uit nie, en Armand Roelofse, 14 lopies nie uit nie, aangeteken.
Tydens NHS se kolfbeurt is almal uitgehaal met hul telling op 102.
Beste boulers vir BHS was Herchelle Naidoo met drie paaltjies vir 18 lopies in sewe beurte en Armand Roelofse met twee paaltjies vir 11 lopies in 2,3 beurte.
Die hoof, Pieter Ferreira het baie geluk gesê aan die span asook die afrigters, Riaan Moolman en André Retief.
