Loock skitter by kampioenskap
Diana Loock het die afgelope naweek 'n tweede plek in die Suid-Afrikaanse IFBB-kampioenskappe verower.
Wat die prestasie besonders maak, is dat dit haar eerste keer is wat sy tot die provinsiale span verkies is.
Met haar eerste deelname aan ‘n kompetisie, die IFBB Mpumalanga Amateur in Secunda, het sy ‘n tweede plek verower en ‘n derde plek by die IFBB Mpumalanga Intermediêr, ook in Secunda.

Tydens die IFBB Mpumalanga-kampioenskap, het sy ook op die podium gestaan en is hier in die provinsiale span wat in KwaZulu-Natal plaasgevind het, ingesluit.
“Dit was seker die mees uitputtendste drie weke van my lewe. Ek het geweet ek sal moes diep delf om my alles vir die kompetisie te gee,” het Loock gesê.
Die 33-jarige se mikpunt was om die top-6 te haal, en sy het glad nie verwag om met ‘n medalje terug te kom nie. “My doelwit was om net tot die finale ronde deur te dring.
Lees ook: Fiks en vietse atlete blink uit
“En kyk nou – ek het meer as net my doelwit bereik.”
Sy het aan die fitness-bikini (onder 1,69 meter) afdeling deelgeneem.
“Sonder my Skepper, my afrigter Annelize Dohne en my man sou dit nie moontlik gewees het nie. Ek is dankbaar en baie geseënd.”
Dohne is die 2016 Suid-Afrikaanse Diva Fitness-modelkampioen.
