Vyf nuwe rekords vir NSA se Kriel
Mpumalanga se Gestremde Sportvrou van die Jaar, Christelle Kriel het vyf nuwe rekords by die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskappe wat in Pietermaritzburg plaasgevind het, opgestel.

Die 100- en 50m-rugslag, 100- en 50m-vlinderslag en die 200m-invidividuele wisselslag (IM) se rekordboeke is in die S14-klas herskryf.
Lees ook: Rekords spat die een na die ander – drie dae lê nog voor
Nóg ‘n swemmer van Nelspruit Swem Akademie (NSA), Raymond de Freitas, het – ook in dié klas – nege silwer- en een bronsmedalje teruggebring Laeveld toe.
Dié 26-jarige het silwermedaljes in die 100- en 50m-borsslag, 100- en 50m-rugslag, 100m-vryslag, 100- en 200m-IM, asook in die 100- en 50m-vlinderslag om sy nek gehang. In die 50m-vryslagitem het hy ‘n bronsmedalje verower.

Lees ook: Swimmers on their way to France
Swemmers wat ook goed presteer het, was Giano Dos Santos, Jetro Piso en Skye Munro. Dos Santos (13) het ‘n blitsvinnige tyd van 56,96 in die 100m-vryslag ingeklok en sy tyd in die 50m-vryslag van 28,33 kan later in die swemseisoen net dalk onder 27 sekondes ingeskryf word.
Piso het die 100m-vryslag onder 54 sekondes geswem en net-net 24 sekondes in die 50m-vryslag gemis.

Suid-Afrikaanse meesterskampioen, Michelle Esterhuizen wat vir die wêreldkampioenskap wat later vanjaar in Budapest, Hongarye plaasvind gekwalifiseer het, behoort ‘n goue medalje of twee huis toe te bring.
