WRRK se kaptein dalk uit vir Gold Cup-reeks
Witrivier Rugbyklub (WRRK) kon Saterdag met die afskop van die gesogte Gold Cup, nie daarin slaag om een drie in die kragmeting op hulle tuisvelde teen die Old Georgians aan te teken nie.

Die losskakel, Andy Huysamen het met ses strafskoppe pale toe geslaag, maar dit was helaas nie genoeg nie. Die besoekers het Witrivier met 20-18 geklop.
Kaptein van Witrivier, Doppies le Roux kan tot twee weke buite aksie wees nadat hy in die eerste helfte hinkepink van die veld af is. Daar bestaan ‘n groot moontlikheid dat hy vir die res van die toernooi sy spanmaats van die kantlyn sal moet dophou, maar ‘n finale besluit word eers later geneem.
Flank, Jaco Bouwer het in die kragmeting sy wangbeen gebreek en die voormalige Puma-speler is vir die res van die seisoen nie beskikbaar nie.
Lees ook: Pools for 2016 Gold Cup confirmed
“Dit is baie slegte nuus vir ons. Dit was ‘n klipharde wedstryd. Dit was seker een van ons beste vertonings vanjaar. Die manne het uitstekend verdedig,” het die spanbestuurder Bennie Pringle gesê.
Die wedstryd kon enige kant toe gegaan het, maar ‘n wen was nie op die dag vir die plaaslike span beskore nie.
“Die wedstryd was ‘n vertoonvenster van die harde werk wat die afrigters en die spelers ter voorbereiding van die toernooi ingesit het. Ons is op ‘n hele ander vlak as wat ons in die Ehlanzeni-liga was,” vertel Pringle.
Na die eerste ronde lê Witrivier in die derde plek in poel C. Direct Axis False Bay het SA Home Loans Durban Collegians met 37-19 uitgestof om die boonste plek op die punteleer te beklee. Die Georgians lê tweede, Brakpan vierde en die Collegians vyfde.
Lees ook: Final Teams for Gold Cup confirmed
Rustenburg Impala het die grootste telling met die afskop aangeteken toe hulle die Northam Platinum Rhinos met 46-19 verslaan het.
Witrivier toer die naweek na Durban waar hulle teen die Durban Collegians op Kings Park koppe gaan stamp.

































