Herne behaal driekuns, speler van die wedstryd
Haker van die Steval Pumas, Frank Herne is Vrydagaand in Port Elizabeth teen die OP Kings as die speler van die wedstryd aangewys nadat hy 'n driekuns behaal het.
Die besoekers het hulle Curriebeker-seisoen met ‘n sege van 38-30 afgesluit.
Die Pumas kon net een van hulle agt wedstryde wen.
Pumabreier, MJ Mentz het verlede week voor die kragmeting teen die Kings genoem dat hulle graag die spelers wat die Laeveld verlaat, Renaldo Bothma en Heinrich Steyl op ‘n positiewe noot wou groet.
Lees ook: ‘n Droomjaar vir Renaldo Bothma
“Weereens het ons heeltemal teveel foute begaan en te maklik punte weggegee, maar die spelers het kalm gebly en tot die einde toe geveg. Dit was ‘n naelbytstryd en ons is baie verlig om ons eerste wen van die seisoen te kon kry waarvoor ons heel jaar baie hard gewerk het,” het Mentz gesê.
Sterflank van die Pumas, Brian Shabangu, Kevin Luiters en JP Lewis het ook elk onder die pale gaan kuier. Steyl het met twee doelskoppe geslaag terwyl Devon Williams ook met twee geslaag het.

Skaars ‘n maand nadat voormalige leerder van Hoërskool Nelspruit, Rassie van Vuuren, wat ses jaar in Frankryk rugby gespeel het, by die Pumas aangesluit het, het hy ‘n rugbesering opgedoen en het besluit om sy rugbyskoene weg te pak. Die hernuwing van spelerkontrakte sal eers later bekend gemaak word.
Lees ook: Drie nuwes vir Pumas
Daar is ook nog geen uitsluitsel of Steval hulle kontrak as hoofborg gaan hernu nie.
Die spelers is tot en met die einde van Oktober met vakansie.
