Komatipoort Ringbalklub sluit die jaar op ‘n gesellige noot af
Die Komatipoort Ringbalklub het verlede Woensdagaand die jaar met vriendskaplike wedstryde, 'n prysuitdeling en 'n gesellige braai afgesluit.
Lede van die Komatipoort Ringbalklub en hulle gesinne het verlede Woensdagaand in prettige kleredrag, soos tutu’s en muisore, by die klub opgedaag op die suksesse van die jaar te vier. Die beste uitrusting is aan die einde van die aand met ‘n prys beloon.
Die aand het afgeskop met ‘n vriendskaplike ringbalwedstryd tussen die kinders, wat hulle baie geniet het.
Die tieners en jongmense was daarna aan die beurt en ‘n vinnige wedstryd met sterk wedywering het gevolg.
Pootuit na al die aksie, kon die deelnemers hul sitplekke vir die prysuitdeling inneem.
Sine Ripinga is as beste veeldoelige junior speler en Cindy Bruwer as die beste veeldoelige senior van die jaar aangewys. Ilze Oberholzer was die beste doelskieter van die jaar en Melanie Vermaak was die veelsydigste speler.
Wimpers Bruwer het die toekenning ontvang vir die afrigter van die jaar en Hes Ferreira het die houtlepeltoekenning ontvang. Die junior wat die beste vordering getoon het was Zarlia Engelbrecht en die senior was Monique Schutte.
WG Engelbrecht is bekroon as die speler van die jaar, terwyl Chimone Kok die toekenning vir die toegewydste speler van die jaar ontvang het.
‘n Reënbui het tot almal se groot vreugde tydens dié geleentheid uitgesak, en die aand is met ‘n bring-en-braai afgesluit sodat die klublede vir oulaas almal saam kon kuier.
Die voormalige Korfbalklub is in 1992 deur Koos Louw gestig en Komatipoort en Malalane het vir ‘n tydperk kragte saamgespan.
Wimpers Bruwer het in 2011 as die afrigter oorgeneem en die klub het uitstekend onder haar wakenede oog gevaar.
Die ligawedstryde het in Maart, April en Mei plaasgevind en hulle het teen spanne van die Laeveld deelgeneem.






