Janse van Rensburg en Specman dalk SA se beste
Die voormalige vleuel van die Steval Pumas, Rosko Specman, wat in 2013 as die Absa Curriebeker Eersteliga-speler van die Jaar aangewys is, is vir die Sewes-speler van die Jaar vir die Suid-Afrikaanse Rugby-unietoekennings genomineer.
In 2013 het hy 23 drieë in 25 wedstryde gedruk. Tussen 2013 en 2015 het hy in 45 kragmetings vir die Pumas gespeel waarvan hy 28 keer onder die pale gaan kuier het.
Specmagic was deel van die Blitsbokke se Olimpiese Spelespan. In die bronseindstryd teen Japan, het hy ‘n driekuns behaal en was die eerste Suid-Afrikaanse speler wat drie drieë in een wedstryd tydens die Spele kon druk. Hy het sy sewesdebuut in 2014 teen die VSA gemaak.

Seabelo Senatla en Kyle Brown is ook vir die kategorie genomineer.
Nuut-aangestelde breier van die Pumas, Brent Janse van Rensburg is saam met Johann Ackermann (Emirates Lions, Xerox Goue Leeus) en Neil Powell (Springbok Sewes) in lyn vir die afrigter van die jaar.
Lees ook: Pumas stel nuwe breier aan, Stonehouse wil dalk fluitjie wegberê
Janse van Rensburg het vanjaar groot welslae met die Boland behaal sedert hy in Januarie as afrigter aangestel is. Hy het die Boland gehelp om vir die eerste keer in sewe jaar tot die Curriebeker-premierliga deur te dring. Hy word as een van Suid-Afrika se mees opwindende jong afrigters gesien.
Janse van Rensburg het in 23 toetse tussen 2002 en 2006 vir Suid-Afrika gespeel – 10 op vleuel, agt op heelagter, vier as losskakel en een as senter. In 2002 is hy as SA Sewesspeler van die Jaar aangewys.
Die 36-jarige het ook vir die Westelike Provinsie (10), Pumas (9) en vir die Sharks (33) uitgedraf.
