Local sportSport

Steyn val by SA’s se finale ronde vas

Faantjie Steyn, wat verlede jaar by die Suid-Afrikaanse Stoeikampioenskappe die titel in die junior kategorie omhoog gehou het, moes vanjaar met 'n silwermedalje tevrede wees.

Die SA Stoeikampioenskappe vir jeug en juniors is die afgelope naweek by die Noord-Gautengsaal in Pretoria beslis.

Steyn het in die finale ronde, teen een van sy grootste teëstanders, Onke Osaldador vasgeval.

“My senuwees was gedaan. Die kompetise was sterker as verlede jaar. Ek is effens teleurgesteld, maar volgende jaar bring ek belis ‘n goue medalje terug,” het Steyn gesê.

Afrigter van Nelspruit Stoei-klub, Hansie Kruger het gesê die feit dat Steyn nie ‘n stoeimaat in sy kategorie het om teen te oefen nie, ‘n groot faktor is. “Sy eerste wedstryd was fenomenaal.”

Shiloh Mathane en Bioné Kleynhans, wat vanjaar die eerste keer SA’s toe gegaan het, het albei silwer gekry. Klein Jean Erasmus, Ryan Venter en Stefan Kruger het ook ‘n tweede plek behaal.

Kruger is opgewonde oor wat die toekoms vir die klub inhou.

“Ek is ongelooflik trots soos ek hier staan. ‘n Hele paar van hierdie stoeiers kan volgende jaar vir hulle SA kleure stoei. Dit is ‘n goeie groep en een van die dae, sit ons nie net die Laeveld nie, maar ook Mpumalanga op die stoeikaart.”

Aidan Venter het in die o/13-kategorie gestoei en ‘n bronsmedalje om sy nek gehang. Basie Mathane het in dieselfde kategorie deelgeneem, maar in die 30- tot 33-kilogramgroep, en ook die derde plek op die podium ingeneem.

Nog ‘n bronsmedalje is deur Lourens Erasmus in die 58- tot 63-kilogramkategorie opgeraap.

Die stoeiers se ervaring na afloop van die SA’s

Shiloh Mathane

SA’s was vir my ‘n groot ervaring en baie lekker. My vriendskaplike wedstryde was moeilik, maar ek gaan beslis aanhou stoei.

Bioné Kleynhans

Ek het nie na my afrigter in die hoek geluister nie, maar ek hoop en glo dat ek volgende jaar beter gaan vaar.

IMG_5934 (Medium)
Shiloh Mathane en Bioné Kleynhans.

Stefan Kruger

Dankie aan die ouers en die afrigters vir al julle ondersteuning en bystand. Dit was ‘n belewenis om my provinsie te kon verteenwoordig.

Jean Erasmus

Dankie aan oom Hansie (Kruger) en die ouers. Ek is tevrede met my silwermedalje, maar ek het ‘n fout in die finale ronde begaan wat ek nie gewoonlik sou gemaak het nie.

Ryan Venter

Dit was ‘n wonderlike ervaring, maar ek het my teëstanders onderskat.

IMG_5938 (Medium)
Jean Erasmus, Ryan Venter en Stefan Kruger.

Aidan Venter

Dit was my eerste SA’s en ek mik om volgende jaar weer te gaan. My kop was nie reg nie.

Lourens Erasmus

Renier Nel wat verlede jaar die SA’s gewen het, het ek weer vanjaar op die mat ontmoet. Dit was seker een van my hardste wedstryde, maar ek het hom gewen. Dit is vir my ‘n groot eer om brons te kon vat.

Basie Mathane

Ek het nie gedink ek sal ‘n plek op die podium haal nie. Dylan Moolman het my ‘n jaar terug gewen, en vanjaar het ek hom amper gehad.

IMG_5941 (Medium)
Aidan Venter, Basie Mathane en Lourens Erasmus.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button