Local sportSport

Swemseisoen begin in erns vir die Lanies

Leerlinge van Laerskool Malelane het verlede Maandag die laaste kwartaal met die jaarlikse interhuis-swemgala begin.

Leerlinge van Laerskool Malelane het Maandag die laaste kwartaal met die jaarlikse interhuis-swemgala begin.

Die swemmers van gr. 1 tot 7 het deelgeneem en hul ywer en deursettingsvermoë was merkwaardig. Terwyl die ouer leerlinge al pragtige tegniek getoon het en soos blits deur die water gegly het, was die jonges se durf en vasberadenheid om dit tot by die eindstreep te maak, prettig en aanskoulik.

Die o/7’s tot o/9’s het in 25m-vryslag, -borsslag en -rugslag deelneem, terwyl die o/10’s tot o/14’s aan 50m vlinderslag en individuele wisselslag deelgeneem het.

Izani van der Merwe het die rekord vir die o/14-dogterborsslag verbeter terwyl Keagan Jansen van Vuuren in dieselfde ouderdomsgroep en slag die seunsrekord laat spat het. Ettienne Roux en Lian Tosen het albei die rekord vir die o/7-rugslag vir seuns verbeter.

Alhoewel net die topdrie-swemmers in elke item medaljes ontvang het, was die ouers en onderwysers trots op elke leerlinge wat dit in die swembad gewaag het en hul beste gegee het.

Die twee toppresterende seuns en dogter in die junior en senior afdelings is aan die einde van die gala aangewys en het trofees ontvang:

Junior victrix ludorum: Janca Hattingh

Junior victor ludorum: Jaco Enslin

Senior victrix ludorum: Izani van der Merwe

Senior victor ludorum: Rossouw Janson.

Die Lanie-swemmers gaan hierdie kwartaal aan ‘n paar galas deelneem: op

18 Oktober ‘n liga B-afdelingbyeenkoms by St Peter’s School in Mbombela en op 25 Oktober by Curro Nelspruit.

Die skool bied op 26 Oktober ‘n vriendskaplike byeenkoms aan en ouers en families word aangemoedig om die jonges te ondersteun.

Kyk na foto’s van die byeenkoms hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button