Gimnaste ryg medaljes by SA Gim-spele in
Nelspruit Gimnastiek Akademie (NGA) se Zuziwe Mayenjane het tydens die Suid-Afrikaanse Gim-spele wat in Kaapstad gehou is, 'n algehele derde plek vir vlak 5-gimnaste behaal.
Sy het tydens die Mpumalanga-kampioenskappe wat in Augustus plaasgevind het, ‘n eerste plek in die vroue-artistiese afdeling met ‘n gemiddeld van 8,74 verower.
Sy het ook in Junie by die Matsport-sentrum in Eldoraigne gedurende die Eldo Sterre met ‘n goue medalje gespog.
Yvona Louw (vlak 4) het ‘n podiumplek behaal nadat sy ‘n goud op die vloer en ‘n bronsmedalje op die balk, brug en sprong verwerf het, wat haar ‘n algehele derde plek besorg het.

Amoré Gerber (vlak 4) het ‘n goue medalje op die brug en silwer op die balk om haar nek gehang. Sy het net-net ‘n plek op die podium misgeloop, en algeheel vierde uit 102 gimnaste geëindig. Zoë Scheepers, wat verlede jaar die victrix ludorum-trofee tydens NGA se prysuitdeling omhoog gehou het, het algeheel vyfde, met ‘n silwer op die brug, geëindig.
Lees ook: Plaaslike gimnastiek floreer
Altesaam 15 atlete van NGA het in Kaapstad aan een van die land se mees gesogte kompetisies deel geneem.
“Die harde werk wat die gimnaste voor die spele ingesit het, het beslis gewys. Die kinders het vanjaar so gegroei, dit is ‘n groot voorreg om saam met hulle te kan werk. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Dit kompetisie word elke jaar strawwer en die gimnaste weet wat hulle moet insit,” het afrigter van NGA, Maré Putter gesê.

NGA se gimnaste het tydens die Mpumalanga-kampioenskappe uitsonderlike prestasies behaal en is vir die 18de agtereenvolgende jaar as die beste senior en junior span aangewys.
Die vlak 4- tot 6-gimnaste se spele word apart van die vlak 7 gehou. Amani Omar, ‘n vlak 7-gimnas, het in Junie aan die Nasionale Artistiese Kompetisie in Durban deelgeneem waar sy ‘n algehele eerste plek behaal het. Sy het goud vir die balk en spronge, en silwer vir die brug en die vloer, om haar nek gehang.
Lees ook: Gimnaste se grasie verstom
Ander gimnaste wat ‘n plek onder die top 10 behaal het was Suné Graham (negende), Danté Gerber (10de), Shené Coetzee (13de) en Larise Combrink (17de).
