Donasies stroom in tydens gholfdag
Wanneer die span van Du Toit-Smuts, Mathews Phosa en die plaaslike koerant nie sake in die hof of voor die rekenaar uitspook nie, stof hulle die gholfstokke af en vertoon hul vernuf op Nelspruit Gholfklub.

Marius Nelen Steval Puma-speler, Hoffmann Maritz het as wenners van Nelspruit Gholfklub se baan afgestap nadat hulle die jaarlikse Mathews Phosa, Du Toit-Smuts/Laevelder se gholfdag Vrydag met ‘n puntetelling van 45 gewen het.
“Dit is ‘n besonderse voorreg om op Laevelder se 130ste en die prokureursfirma se 40ste te kon wen,” het Nel gesê.
Altesaam 128 spelers het sake op die baan uitgespook en dit was die 14de keer wat die geleentheid met groot sukses aangebied is. ‘n Totale bedrag van R65 000, R20 000 meer as in 2015, is vir onderskeidelik Huis Betlehem, Dasha Skool vir Gestremdes, Nelspruit Gemeenskapforum, Lighthouse en Herfsakker ingesamel. Laevelder het op hulle bof, ‘n voorstelling van ‘n koek gehad waar gholfspelers die balletjie in die koek moes inslaan.
Lees ook: Herfsakker kry ‘n welkome skenking
Die dag is op ‘n feestelike noot tydens die prysuitdeling afgesluit met ‘n verrassingskoek van een meter waaroor daar nog lank gepraat gaan word.
Op elke putjie het die betrokke borge liplekkerkos voorberei en ‘n hele paar strafdoppe uitgedeel.
“‘n Hartlike dank aan al die spelers en borge vir hul onbaatsugtige opoffering om van die dag ‘n reusesukses te gemaak het. Daar word gesê dat dit lekkerder is om te gee as om te ontvang. Ons hoop dat dit julle harte warm maak om te weet dat julle bydrae ‘n verskil maak in die lewens van ander. Volgende jaar beloof om selfs groter en beter te wees aangesien die gholfdag met ‘n rolbaldag gekombineer gaan word. Ons hoop om elkeen wat betrokke was weer volgende jaar daar te sien en selfs ‘n paar nuwe gesigte,” het Johan Oosthuizen gesê.
Nóg pret-foto’s: It’s a party on the golf course
Hiermee die plekke behaal tydens die gholfdag:
• Eerste – Marius Nel en Hoffmann Maritz
• Tweede – Thulani Ntobela en Jack Flemming
• Derde – DC Human en Steyn van Heerden
• Vierde – Ronnie Mbatsane en JC Kriek
• Vyfde – Jabue Jelle en Leslie Grove.

















