Polisievrou derde keer in nasionale krieketspan
Sers. Christie Botha van die Nelspruit Springstofeenheid is vir die derde agtereenvolgende jaar in die Nasionale Polisie-vrouekrieketspan opgeneem en is ook as die kaptein aangewys.

Dié groep van 13 spelers is tydens die jaarlikse Polisie-krieketkampioenskappe, wat vroeër die maand in Bloemfontein plaasgevind het, bekendgemaak. Na afloop daarvan het sy tydens die prysuitdeling die trofee vir die beste bouler ontvang.
“Ek het nie gedink ek gaan weer vir die nasionale span gekies word nie. Vroeg in die week het ek bietjie drooggemaak, maar namate die week verloop het, het dit beter gegaan,” sê Botha.
Lees ook: Bom-eenheid spog nou met eerste vrou
Dit is die derde jaar wat die polisie ‘n vrouespan na die kampioenskappe gestuur het. Net drie vroue van Mpumalanga was in die Rosestad in aksie. Die top-22-spelers, wat in ‘n strength vs strength-kragmeting betrokke was, is na afloop van die week gekies.
“Ek moet spog. Ek het my eerste 50-tal geslaan. Ek het 59 lopies, nie-uit-nie, van net 33 balle gemoker waarvan ek 11 viere geslaan het. Met die bal in hand, het ek nege paaltjies in die drie wedstryde gevat.”
Lees ook: Speurder het hope talent
Die nasionale span vertrek in Februarie na die Paarl waar hulle in die Suid-Afrikaanse Forces-toernooi teen die weermag en gevangenisdienste gaan speel. Die toernooi het verlede jaar in Oudtshoorn plaasgevind.


