Toernooi, ‘n eerste vir die Laeveld se o/10-spanne
Die Laeveld se top-ses o/10-seun- en dogtertennisspelers, wat aan 'n mini-interdistriktetoernooi vroeg in November in Secunda gaan deelneem, is die afgelope naweek bekendgemaak.

Die span is na afloop van ‘n o/10-toernooi wat Saterdag op Van Riebeeckpark se bane beslis is, gekies.
Vier van die Laeveld se junior spanne (o/11, o/13, o/15 en o/18) het vroeër vanjaar ook aan ‘n interdistrikte-tennistoernooi teen Wes-Mpumalanga en die Hoëveld gewys dat die plaaslike spelers se tennis witwarm is. Vanjaar is die eerste keer wat die Laeveld ‘n o/10-span na ‘n soortgelyke toernooi toe stuur.
Lees ook: Tennisspelers spook vir plek in interdistrikte
“Hierdie toernooi is daarop gemik om ‘n groter belangstelling in die sport te kweek en veral om die genot van die spel by veral die jonger spelers te wakker,” het Jeanetta Boshoff van die Laeveld Tennisvereniging gesê.
Dylan Ormiston, wat vanjaar nog o/10 is, is een van die groot aanspraakmakers wat na Secunda gaan toer. Aan die einde van April, het hy die tweede plek op die o/11-rangleer beklee. Ormiston is nou die topspeler in sy ouderdomsgroep.
Die agtjarige Joslin Boshoff, wat nie net ‘n kranige swemmer is nie, is na afloop van die naweek se proewe as die dogters se topspeler aangewys.
Die span wat na Secunda toer
Seuns
Dylan Ormiston
Richard Dickson
Antoni Theron
Heimler Schuler
Imhad Arabi
JP Snyman
Dogters
Joslin Boshoff
Emma Snyman
Tanya Pietersen
Miré Grobler
Hayley Billingham
Sally Gitlin.














