Local sportSport

Pumas se Herne stap met louere weg

Die haker Frank Herne was aan die spits van 'n rits toekennings deur die Steval Pumas by die Mpumalanga Rugby Unie (MRU) se prysuitdeling toe hy as die Speler van die Jaar aangewys is.

Dié 27-jarige het ook met die trofeë as Voorspeler van die Jaar en Steval se Speler van die Jaar weggestap. Herne is saam met Howard Mnisi (Leeus), Kwagga Smit (Leeus), Huw Jones (WP) en Jamba Ulengo (Bulle) as die Curriebeker se voorste driedrukkers – elk met sewe – benoem.

Renaldo Bothma en Francois Brummer was ook kandidate vir Speler van die Jaar. “Donderdagaand was beslis een van my loopbaanhoogtepunte. Dit is nou my vierde jaar by die Pumas en dit is die eerste keer wat ek met soveel pryse beloon is,” het Herne gesê. Die blondekop het in 2012 sy laaste wedstryd vir die OP Kings teen die einste Pumas gespeel toe die span van die Baai met een punt geseëvier het.

Frank Herne raap vier toekennings by Pumas se jaarlikse prysuitdeling op.
Frank Herne raap vier toekennings by Pumas se jaarlikse prysuitdeling op.

 

“President van die Kings, Cheeky Watson het gesê dat hulle my vir nog twee jaar wil kontrakteer, maar daardie week het hy gesê dat my kontrak nie hernu gaan word nie. Aan die einde van Oktober het ek geen aanbod van ‘n unie gehad nie.”

Lees ook: Herne behaal driekuns, speler van die wedstryd

Voormalige Pumabreier, Jimmy Stonehouse het die haker gelukkig genader en Herne het tot aan die einde van 2018 ‘n kontrak met die MRU gesluit.

“Jimmy het my in 2012 gebel en my 15 minute gegee om die kontrak te teken en terug te stuur. Voor dit was ek nog nie in die Laeveld nie. Ek het my goed en my hond in my Volkswagen Golfie gepak en hierheen gejaag.”

Dié leerling van Grey College sê dat een van sy ander hoogtepunte die promosie-relegasiewedstryd teen die Griekwas in 2013 op Mbombela Stadium was. “Daardie wen het nie net vir my nie, maar ook vir die span baie beteken. Ons het die rugbywêreld gewys dat ons saam met die groot honde kan blaf.”

Frank Herne. Foto: Deon Ferreria
Frank Herne. Foto: Deon Ferreira

Lambert Groenewald het twee pryse opgeraap as Curriebeker-kwalifiserende Speler van die Jaar asook die Spelers se Speler van die Jaar.

Skrumskakel, Emile Temperman, wat vanjaar sy debuut vir die Pienktruie gemaak het, het die trofee vir die Agterspeler van die Jaar ontvang terwyl Justin van Staden en Leigthton van Wyk as onderskeidelik as die top-puntemaker- en die speler wat die meeste vordering getoon het, aangewys is.

Lees ook: Groenewald sak vanaand op agt

Herne, Reynier van Rooyen en Wilmaure Louw het vanjaar hulle 50-merk in ‘n pienktrui gehaal terwyl die veteraan De-Jay Terblanche in meer as 150 wedstryde vir die Pumas gespeel het.

Lambert Groenewald. Foto: Hennie Homann
Lambert Groenewald. Foto: Hennie Homann

Kaptein Renaldo Bothma het Woensdag sy toekomsplanne bekend gemaak en sluit van volgende jaar by die Harlequins in Londen aan. Bothma is gekontrakteer om aanstaande seisoen Superrugby vir die Bulle te speel voordat hy twee jaar lank vir Quins beskikbaar sal wees.

Bothma het met die gesogte SupaRugby Speler van die Jaar-toekenning weggestap. Stonehouse, Vincent Koch en Marius van Rensburg het ook al met die trofee gespog.

“Dankie vir elke speler se harde werk en toewyding die afgelope seisoen. Vir die spelers wat nie volgende jaar meer by ons is nie, wens ons alle sterkte vir die toekoms toe,” het die voormalige Pumabreier, MJ Mentz gesê.

Emile Temperman. Foto: Shaun Roy/ Real Time Images
Emile Temperman. Foto: Shaun Roy/ Real Time Images

 

Pas-aangestelde afrigter, Brent Janse van Rensburg het Donderdagaand 2017 se Pumaspan aangekondig.

Voorspelers
De-Jay Terblanche, Lux Khoza, Khwezi Mona, Morgan Naudé, Marné Coetzee, Jacques Kotze, Louis Albertse, Mark Pretorius, Frank Herne, Simon Westraadt, Stephan Greeff, Jeremy Jordan, Wiehan Hay, Tazz Fuzani, Hugo Kloppers, Jannie Stander, Marnus Schoeman, Chris Cloete, Brian Shabangu, Reuben Johannes, Lambert Groenewald, Nardus van der Walt, Ruan Lerm en Dylan Peterson.

Agterspelers
Reynier van Rooyen, Emile Temperman, Kevin Luiters, Justin van Staden, Karlo Aspeling, Kobus Marais, Hennie Skorbinski, Marlou van Niekerk, Leighton van Wyk, Deon Helberg, Ryan Nell, Bernado Botha, Tyler Fisher, Ruwellyn Isbell, JP Lewis, Devon Williams en Hoffman Maritz.

Herne se rugbyloopbaan
2016
Pumas Curriebeker
Pumas Curriebeker-kwalifiserende rondes
2015
Pumas Absa Curriebeker Premierliga
Pumas Vodacombeker
2014
Pumas Absa Curriebeker Premierliga
Pumas Vodacombeker
2013
Pumas Absa Curriebeker promosie-relegasie
Pumas Absa Curriebeker eerstedivisie
Suid-Afrikaanse Presidente XV – IRB Tbilisibeker
Pumas Vodacombeker
2012
OP Kings Absa Curriebeker promosie-relegasie
OP Kings Absa Curriebeker eerstedivisie
OP Kings Vodacombeker
2011
OP Kings Absa Curriebeker eerstedivisie
OP Kings Absa Curriebeker vriendskaplike wedstryde
2011
South African Kings IRB Nationsbeker
OP Kings Vodacombeker
2010
Vrystaat Absa o/21
Vrystaat Vodacombeker
2009
Vrystaat Absa o/21
Shimlas Varsitybeker
2008
Vrystaat Absa o/19
2007
Vrystaat Absa o/19
SA Skole Akadmie
Vrystaat o/18-Cravenweek
2005
O/16 Coca Cola Grantkhomo.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button