Impalas vier die afgelope jaar se suksesse
Komatipoort se rugbyspelers het verlede Woensdagaand 'n suksesvolle jaar vir die Impala Rugbyklub gevier.
HECTORSPRUIT – Die Impala Rugbyklub se lede het verlede Woensdagaand ‘n suksesvolle seisoen en jaar by Buffalo Hotel gevier.
Die span het tot by die eindronde van die Ehlanzeni Burgemeestersliga gevorder, maar teen Barberton vasgeval. Hulle is egter vasbeslote om volgende jaar die knoop deur te hak.
Die span het ‘n groei in belangstelling beleef en hoop om volgende jaar ‘n tweede span vir die liga in te skryf.
Hulle begin reeds vroeg in Januarie oefen om die spelers topfiks en gereed vir die nuwe seisoen te kry. Die Pumas se span gaan ook by die klub betrokke raak deur ondermeer klinieke vir die Impalas se afrigtingspan aanbied.
Die gemeenskap is bedank vir hulle ondersteuning, veral die ondersteuners wat ver gery het om elke week die span vanaf die pawiljoen aan te spoor. Die Impalas hoop om volgende jaar ook by meer gemeenskapsprojekte betrokke te raak.
Die verskeie borge is hartlik bedank vir hulle rol in die klub se sukses en het elk ‘n blyk van waardering ontvang.
Om die prysuitdeling af te skop, het die bestuur ‘n trui aan elke speler oorhandig as aandenking van die jaar se lief en leed.
Die volgende trofeë is oorhandig:
• Sewesspeler van die jaar: Jacques Liebenberg.
• Lojaalste speler: Dirk le Roux
• Meeste drieë: Tiaan Nel en Ruaan Minnaar met ses elk.
• Beste vordering en voorspeler van die jaar: Danie Pretorius
• Agterspeler van die jaar: Tiaan Nel
• Spelers se speler van die jaar: Pieter Engels
• Speler van die jaar: Tiaan Fourie
Die aand is met heerlike kos uit die Buffalo Hotel se kombuis afgerond en spelers, hul gesinne en borge kon heerlik saamkuier.
Besighede wat belangstel om die Impalas volgende jaar te borg en spelers wat graag by die klub wil aansluit, is welkom om die voorsitter, Ben Jordaan, by 083-600-1722 te skakel, of stuur ‘n e-pos na ben@phfuel.co.za.





