Local sportSport

Plaasspan wen jaarlikse wedstryd teen Dorp

Volgens Impala-tradisie is die rugbyjaar Saterdag met 'n wedstryd tussen die manne van die dorp en dié van die plaas afgesluit.

Die Impala Rugbyklub se tradisie van ‘n Dorp vs Plaas rugbywedstryd is die afgelope drie jaar weer voortgesit en elke jaar groei die belangstelling en die klub.

Saterdag se wedstryd is voorafgaan met ‘n familiedag met pret vir oud en jonk. Ma en pa kon heerlik saam met vriende kuier terwyl die kleinspan op die waterglybane baljaar.

Die spelers het om 15:00 by die klubhuis bymekaar gekom om in spanne ingedeel te word. Dit was ‘n verrassing wie almal sou opdaag en dus is daar nie vooraf geoefen nie.

Die dorpsjapies kon vir die Dorp speel en almal buite die dorp kon die Plaasspan verteenwoordig. Fiksheid was nie noodwendig op die prioriteitslys nie, slegs gewilligheid.

Die wedstryd is in ‘n baie goeie gees gespeel. By tye is daar selfs mooi rugby gespeel en daar was ‘n paar uitmuntendebewegings.

Van die spelers het nou en dan ligte beserings opgedoen. Die noodhulpspan het gou nader gestaan met ‘n “inspuiting” wat dan weer vir hul moed gegee het om verder te sweet, tot volgende keer, natuurlik.

Die skeidsregter, Stephan du Plessis, moes sy storie ken en kophou om te onthou wie speel nou aan wie se kant. Elkeen het in ‘n trui van sy eie keuse gespeel en dit het die veld omtrent besig laat lyk. Hy het self na rustyd sy fluitjie vir een van die toeskouers gegee en by die dorp se span aangesluit.

Francois Labuschagne het weggespring met die eerste drie vir die Dorpspan. Die doelskop was egter onsuksesvol. Ruan Minnaar het sy kans gebruik en ‘n drie vir die Plaasspan gaan plant. Barry Botha het gesorg vir nog twee punte toe hy dit verdoel het. Hy het nog ‘n drie vir die plaas gaan druk, wat ook nie verdoel is nie.

Dit het die halftydtelling op 12-5 in die Plaasspan se guns te staan gebring.

Hierna het die talentvolle Ideon van der Merwe nog ‘n mooi drie vir die Plaasspan gaan druk, maar die doelskop was weer onsuksesvol. Die dorpenaars het met nog ‘n drie teruggeveg en die eindfluitjie het met die telling op 17-10 in die guns van die Plaasspan, geblaas.

Die dag is met ‘n heerlike bring-en-braai by die klub afgesluit en die bestuur het almal vir hul bydrae tot die prettige dag bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button