Komati-swemmers presteer by MP Kampioenskappe
Verlede naweek het 'n paar swemmers van die Komatipoort Swemklub nege medaljes by die provinsiale kampioenskappe in Mbombela ingepalm.
Alhoewel Komatipoort Swemklub een van die kleinste klubs in die streek is, het dit hul nie verhinder om ‘n hele paar medaljes te verdien tydens die Mpumalanga Kampioenskappe nie.
Klubs van oral uit Mpumangalanga, Mosambiek en Swaziland het verlede naweek in Mbombela aan die kampioenskappe deelgeneem. Dit was ‘n koue naweek met baie reën, maar dit het nie die swemmers gestuit nie.
Ses van die klub se lede het deelgeneem en altesaam nege medaljes verwerf. Mel Stronkhorst het vyf eerste plekke en een tweede plek behaal. Hy het ook ‘n trofee ontvang vir die beste manlike presteerder in die 50m-borsslag. Paulo Goncalves het ‘n derde plek en WG Engelbrecht het twee derde plekke behaal. Hanro van Heerden, Zarlia Engelbrecht, Christn Engelbrecht het ook deelgeneem.
Afrigter Stephan Kuhn het saam met Paulo Goncalves, WG Engelbrecht en Mel Stronkhorst in die mans se 200m vryslag-aflos deelgeneem en het net-net ‘n medalje gemis om vierde te eindig.
Die klub is baie trots op hul swemmers se prestasies en daar word toegewyd vir aanstaande jaar geoefen.
