Broers se kriekettalent maak opspraak
Min weet egter dat Pieter (27), André (25) en Janneman (20) gebore en getoë Laevelders en 'n produk van Laerskool Bergland is.
Die Malan-broers het onlangs groot opspraak in die krieketkringe gemaak toe hulle elkeen honderdtalle in ‘n Sunfoil-driedagstryd tussen Noordwes en Westelike Provinsie op Nuweland op dieselfde dag met die kolf gemoker het.
Pierre Coetzer wat sedert 1985 ‘n onnie by Bergies is, sê dat dié drie ware ambassadeurs vir die skool is en dat Suid-Afrika nog baie van hulle gaan hoor. “Pieter was ‘n tipiese seun – hy was ‘n spoedvraat op die rugbyveld en op die atletiekbaan, ‘n akademiese uitblinker en ‘n fantasiese leier. André was ook ‘n veelsydige sportman – as hy aan verspoeg kon deelneem, sou hy dit ook goed gedoen het – en Janneman het op ‘n vroeë ouderdom reeds groot potensiaal in krieket getoon,” sê Coetzer.

Pieter Wolmarans, het Pieter tussen 1999 en 2003 afgerig. ‘n Goue herinnering wat Wolmarans van die 27-jarige het, was as o/13-speler.
“Hy was die openingsbouler en het op nommer drie gekolf en was dikwels ook ‘n openingskolwer. Nodeloos om te sê, was hy die sterspeler in die span en het met ‘n gemiddeld van 839 lopies in ses wedstryde gespog. Nie een van die teëstanders kon hom uitboul nie. Hy het in vyf agtereenvolgende wedstryde honderdtalle aangeteken. Hy was ook ‘n baie suksesvolle snelbouler en het een na die ander paaltjie gevat,” het Wolmarans gesê.
Alhoewel André in 1999 nog o/9 was, het hy en Pieter vir die eerste keer saam in ‘n span gespeel. Daardie jaar is hulle as Ehlanzeni-ligawenners gekroon, maar het in die Easterns-eindstryd in Benoni verloor. “Ek sal vir Pieter veral vir sy liefde vir die spel, absolute toewyding en die ekstra werk wat ons ingesit het na elke oefening onthou,” het Wolmarans gesê.

‘n Jaar later het André (o/10) en Pieter (o/12) die Easterns-trofee omhoog gehou.
“Pieter se sport was vir hom ontsettend belangrik. As daar ‘n krieket- of rugbywedstryd was, kon jy hom nie in die klaskamer gehou het nie,” vertel Coetzer.
André aan die anderkant het losskakel gespeel en hy was saam met die Springbokskrumskakel, Faf de Klerk, deel van die o/10- tot o/13-krieketspan wat die Mpumalanga Grootskole-wenners was. “Ek onthou 2004 se eindstryd.
Die wedstryd is in Witbank beslis waar ons teen Kragbron te staan gekom het. Ons was die ‘underdogs’ maar ons het hulle ‘n behoorlike pak slae gegee,” vertel Coetzer met ‘n glimlag.

André se vasberadenheid en dryf om sy beste te gee, sal Wolmarans altyd bybly. “Hy was ‘n baie talentvolle speler.
Hy was o/8 toe ek hom in die o/10-span gekies het. Daar het hy met sy boul- en veldwerk uitgeblink. Die volgende jaar het hy in die o/11-span gespeel terwyl hy slegs o/9 was.
“Ook daardie jaar was sy bydrae met die bal baie betekenisvol, maar hy het veral met die kolf begin uitblink,” vertel Wolmarans.
Die broers se pa, Johan het spesiaal in hulle agterplaas ‘n krieketnet met spreiligte en ‘n bal-masjien opgerig.
“Janneman het baie by sy ouer broers geleer, veral met krieket. As 10-jarige kannetjie, is hy vir die
o/11-Puma-span gekies, want daardie jaar was daar nog nie ‘n o/10-span nie.”

Die driekuns het hulle liefde vir sport by Hoërskool Waterkloof voortgesit waar hulle onder die bekwame afrigting van Neels de Villiers gespeel het.
“Sjoe! Drie talentvolle seuns. Dit was ‘n voorreg om hulle drie te kon afrig, want na elke jaar het hulle van krag tot krag gegaan.
“Dan moet ek ook byvoeg dat hulle ma Tessa en hulle pa Johan ‘n groot rol in hulle krieketloopbaan gespeel het,” het De Villiers gesê.
Janneman het ook vir Kloof se eerste rugbyspan uitgedraf wat in 2015 vir Affies ‘n behoorlike loesing gegee het.
Pieter het sy eerste klas-debuut vir Northens in 2007 gemaak en met die intrapslag 72 lopies aangeteken.
In 2008 was hy deel van die Suid-Afrikaanse o/19 Wêreldbeker-span en was ‘n gekontrakteerde speler by die Titans.
In 2013 het hy na die Kaap verhuis waar hy nou vir die Westelike Provinsie speel.
Albei André en Janneman speel vir Pukke se eerste krieketspan en is ook deel van Noordwes se provinsiale span.





