Uys is terug om sy titel te verdedig
Die 2016 ultramarathonkampioen van die uitmergelende Barberton XCM Bergfietsren, Henry Uys (34) keer vanjaar terug om sy titel te verdedig.
Dit sal die sesde jaar wees wat die Johannesburger aan een van die Laeveld se uitdagendste wedrenne deelneem. Die 34-jarige het verlede jaar die 110km in 04:21:34 voltooi.
“Die roete is vanjaar effe moeiliker met meer opdraandes wat op die deelnemers wag. Ek sal graag my tyd van verlede jaar wil ry, maar ek glo dit sal stadiger wees,” het Uys gesê.
Lees ook: Kriek managed to finish second at Barberton XCM
Ter voorbereiding vir die spesifieke wedren, het hy die afgelope naweek aan die USN Cup by die Avianto Sportgronde in Gauteng deelgeneem.
“Die 110km sal my eerste groot wedren van die jaar wees. Ek verwag sterk kompetisie. Om weer die wentitel in te palm, gaan nie maklik wees nie.”
Uys het voorheen professioneel padfiets gery maar ding die afgelope vier jaar semiprofessioneel op die klipperige terrein mee.

“Hierdie jaar gaan ek meer tyd op my bergfiets spandeer om teen die einde van die jaar ook as ‘n professionale bergfietsryer geklassifiseer te word.”
Die Barberton XCM vind Saterdag plaas. Die ryers spring by Hoërskool Barberton weg.
