Komati-spelers troef die grotes
Komatipoort Akademie se tennisspelers troef die omgewing se groot skole in die liga hierdie kwartaal.
Die eerste kwartaal is propvol sport vir skoliere. Benewens atletiek, neem leerlinge van Komatipoort Akademie ook aan die laerskooltennisliga deel.
Wedstryde vind Woensdae plaas en die Komaties kom teen skole soos Laerskool Nelspruit, Laerskool Laeveld, Lydenburg Primary en Laerskool Bergland te staan.
Dit is behoorlik ‘n Dawid-en-Goliat- storie, aangesien Komati teen die groot skole meeding. Die kinders geniet egter die sport en neem dapper aan elke byeenkoms deel.
Die eerste wedstryd was op 25 Januarie op die Komaties se tuisbane teen Laerskool Nelspruit. Dit was ‘n uitsonderlike warm dag en die wenners het behoorlik gesweet vir elke punt.
Ahoewel Komati ver verloor het, het dit in goeie gees plaasgevind en die kinders het mekaar mooi op die baan bemoedig en gekomplimenteer.

