Geesdriftiges slaan af vir goeie doel
'n Klein maar geesdriftige groep spelers het Saterdag in die hitte by Kambaku Gholfklub in Komatipoort 'n potjie ten bate van die plaaslike tak van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) gespeel.
Verskeie aktiwiteite in die dorp het daartoe gelei dat minder spelers as wat verwag is, aan Saterdag se CMR Gholfdag by die Kambaku Gholfklub deelgeneem het.
Volgens Roenel Basson, organiseerder van die dag en komiteelid van die plaaslike tak, is hulle egter tevrede en dankbaar vir die fondse wat só ingesamel kon word.
Al het daar net 28 spelers afgeslaan, het die CMR meer as hulle doelwit bereik. Basson het die borge en almal wat die dag ondersteun het, bedank.
In die Two Clubs-kompetisie en naaste aan die pen was die wenners Rose Powell, Gerhard Basson, Alex de Kock en Roenel Basson. Die pryse vir die langste dryfhou is aan Theo Stronkhorst en Robyn Howarden toegeken.
Die algehele wenners:
• Eerste plek: Ronelle Putter en Annie Balcolm met 45 punte
• Tweede: Theo Stronkhorst en Gert Erasmus met 44
• Derde: Rose Powell en Roenel Basson met 44
• Vierde: Cas Botha en Gerhard Basson met 44
• Vyfde: Van Dyk Kruger en Gerhard Basson met 43
• Sesde: Andy Lawson en Robyn Howarden met 42
• Sewende: Jacq Nel en Elias Caldeira met 39
• Agste plek: Henk de Kock en Johan Walters met 39 punte.
Die CMR se visie is om deernisvolle hoop aan kinders, gesinne en gemeenskappe te gee, met die doel om te beskerm, ontwikkel en bemagtig. Die plaaslike maatskaplike werker, Charmaine Botha, dek ‘n groot gebied en kan by 013-793-8391 of cmrkomatipoort@cmroos.co.za gekontak word.

