Stonehouse, McIntosh brei Legende-spanne
Een van Suid-Afrika se mees gerekende afrigters, Jimmy Stonehouse is vir 'n rukkie terug in die Laeveld.
Malelane Rugbyklub vier vanjaar hul 50ste verjaarsdag.
Die Malelane Rugbynaweek skop reeds Vrydag af met verskeie skole- en klubwedstryde wat gespeel word.
Die hoogtepunt van die naweek sal egter Saterdag om 15:40 wees wanneer die Puma Legendes die SA Legendes pak.
Stonehouse, wat onlangs sy kontrak by die Japanse Rugbyklub, Toshiba Brave Lupus vir twee jaar verleng het, brei die Puma-span.
Lees ook: Stonehouse droom steeds om Superrugby-span af te rig
Stonehouse het die Pumas in 2009 tot hul tweede Curriebeker Eersteliga-titel gelei en die Laevelders van ‘n plek in die premier-afdeling verseker. Sy span sal saam met voormalige Puma-staatmakers soos MJ Mentz, Corné Steenkamp, Jaco Bouwer, Ashwin Scott, Ronnie Uys en Doppies le Roux, oud-Bokke soos Wim Visser, John Mametsa, Kennedy Tsimba en Werner Cronjé aandurf.
“Gedurende my tyd by die Pumas het ek talle van die spelers wat in die wedstryd teen die SA Legendes gaan speel, afgerig. Malelane Rugbyklub het my genader om deel van die naweek te vorm. Dit gaan baie opwindend wees om die bande met die ouens op te tel,” het Stonehouse gesê.
Ian McIntosh, wat in die vroeë 90’s die Bokke afgerig het, kry Saterdag die geleentheid om die oud-Bokke onder hande te neem.

Ondersteuners kan Saterdag na ‘n rugbyfees uitsien wanneer 11 wedstryde gespeel gaan word. Kaartjies beloop R10 per persoon.



