Whities spog met 23 medaljes in vertoonkas
Die velde was vol belofte vir dit wat vir dié skool se atlete en ondersteuners wag.

Uit die staanspoor was dit duidelik dat die stormagtige bergpas nie vir Laerskool Witrivier gaan stuit nie. Die velde was vol belofte vir dit wat vir dié skool se atlete en ondersteuners wag.
Dié belofte is met mening verwesenlik toe die Whities met 23 medaljes, waaronder nege goud, nege silwer en
vyf brons, weggestap het.
Die o/11-spoedvraat Callum van Staden het twee goue medaljes vir sy skool ingepalm nadat hy die 70m-hekkies in 12,72 en die 80m-naelloop in 11,56 voltooi het. Hy is ook met ‘n silwermedalje vir ‘n hoogte van 1,25m in hoogspring beloon. Dié indrukwekkende vertoning maak dan vir Callum 2 027 ABSA-punte ryker.
Naki Fakude (o/12) het ook drie medaljes verower, waarvan een goud en twee silwer was. Laasgenoemde is onderskeidelik in die 100m- en 150m-naellope behaal. Hy het met goud om die nek weggestap toe hy die 1 200m in 04:12,75 voltooi het. Hy is met 2 015 ABSA-punte beloon.
Nicky Nel (o/13) het 1 290 punte en twee goue medaljes verower toe sy die 1 500m in 05:37,06 en die 800m in 2:34,37 voltooi het. Jacques Stassen het nuwe hoogtes bereik en ‘n goue medalje in die hoogspring vir seuns o/11 ontvang. Hy en Callum kon albei daarin slaag om oor die 1,25m hoë lat te vlieg. Jacques het met dié spoggerige vertoning, 788 ABSA-punte ingepalm.
Mohamed Abdullah het die 100m in sy ouderdomsgroep teen die spoed van witlig afgelê. Dit het hom slegs 14,31 geneem om oor die wenstreep te storm, wat hom 651 ABSA-punte in die sak gebring het.
Die laaste item het die toeskouers behoorlik op die punte van hul stoele laat sit. Die o/11- en o/12-aflosseuns het hul skool se naam hoog gehou en in nét oor 44 sekondes oor die wenstreep genael en 2 400 punte vir die skool ingepalm het.
Pieter Coetser, die atletiekorgani-seerder van Laerskool Witrivier sê dat hierdie dag voorwaar ‘n hoogtepunt op die skool se kalender was, en bedank Laerskool Lydenburg dat hulle deel van die dag kon wees.

