NHS se swemmers verdedig hul titel
Die Ehlanzeni Interhoër-swemtrofee staan vir die tweede agtereenvolgende jaar in Hoërskool Nelspruit se voorportaal.

Curro Nelspruit het sedert verlede jaar, twee plekke opgeskuif en het met 669 punte, 239 punte agter NHS in die tweede plek geeïndig met 2015-kampioene, Uplands College in die derde plek (632).

Penryn College was vierde met 487, Hoërskool Rob Ferreira vyfde (414) met Hoërskole Barberton (110) en Komatipoort Akademie (83,50) wat onderskeidelik die sesde en sewende plekke beklee het.
Hoërskool Bergvlam (58) en die gasheerskool, Lowveld High School (42,50) het die agtste en negende plek op die punteleer ingeneem.
Twee van die Laeveld se staatmakers in die swembad, Giano dos Santos en Jetro Piso, is onderskeidelik as die junior en senior victor ludorum aangewys terwyl die huidige SA 50m-vryslag-Skolekampioen, Liza-Mari Drummond die senior victrix-trofee met Penryn se Jordyn Minifie deel.

Jetro het verlede keer ook met die junior victor-trofee weggestap.
Liza-Mari wat tydens Mpumalanga Swem se jaarlikse prysuitdeling vir haar beste individuele prestasies (soos deur internasionale swemfederasie, Fina, se punte bepaal word) in die 100m-vryslag uitgesonder is, het in 2016 ook die victrix-trofee omhoog gehou. Giano het twee rekords vir o/15-seuns in die 200m-individuele wisselslag (02:24,44) en in die 100m-rugslag (ope-kategorie, 66,77) opgestel. Hy het ‘n verdere twee eerste plekke in die 50m-rug- en vlinderslag verower. Spanmaat, Jetro het ook ‘n rekordtyd van 26,10 in die 50m-vryslag vir seuns o/16 losgewem.

Hy het ook goue medaljes in die seuns-ope 200m-individuele wisselslag, 100m-vryslag, 100m-vlinderslag en 50m-vlinderslag vir seuns bo 16 ingepalm.
‘n Belowende opkomende swemmer, Jordyn het ‘n nuwe persoonlike beste tyd in die 200m-individuele wisselslag van 02:27,54 agter haar naam geskryf.
Lees ook: Uniswim raap al die pryse by Somergala op
Sy het nog nie hierdie seisoen onder 02:29,00 geswem nie en het Woensdag die bestaande rekord van 02:45,00 met 18sek verpletter.
Die 16-jarige het ook die voortou in die 100m-vlinderslag en 100m-borsslag, geneem. In die 200m-vryslagaflositem vir dogters o/16, het Marie Pienaar, Talulah Manyanga-Tshika, Emma Ditcham en Jordyn met ‘n tyd van 02:11,12, meer as ses sekondes voor NHS se span geeïndig.

Die meeste van hierdie swemmers staan ‘n groot kans om in die Mpumalanga-Skoleswemspan ingesluit te word wat in April aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Skole-kampioenskappe gaan deelneem.
Die finale span word hierdie week aangekondig.









