Vroue geniet dié modderbad vir liefdadigheid
'n Hele paar groepe plaaslike vroue het op 19 Februarie 'n modderbesmeerde dag by Kwanyoni Lodge buite Mbombela geniet, als ten bate van vrouekankers.
Muddy Princess, die 5km-hinderniswedren, is landwyd by 10 verskillende punte aangebied en is oorspronklik begin om fondse vir vrouekankers in te samel.
Onder Komatipoort se deelnemers was agt vriendinne wat aan hulself wou bewys dat daar nog baie lewe in hulle is. Van dié is al oumas, maar dit het hulle geensins teruggehou nie. Joelene Caldera, Zelda Furstenburg, Elmarie Blom, Leonie en Lizaan de Nuyschen, Elsa Wessels, Karien van Veyeren en Marian du Plessis se vriendskap is so deur die modder heen verder verstewig.
Een van die ander groepe het bestaan uit vroue van Komatipoort, Malalane en Hectorspruit en het hulleself die Her-icanes gedoop.

Vroue van enige fiksheidsvlak, postuur en nasionaliteit kon aan die geleentheid deelneem. Jy moes net kon kruip, loop, hardloop, klim, lag en speel, en op jou eie pas kon klaarmaak aangesien dit nie ‘n kompatisie is nie.

Spanne en individue kon inskryf, maar almal het op die ou einde een groot span gevorm. Daar word groot klem gelê op spanwerk en om die hulp van jou span te waardeer.
Die organiseerders probeer die wedloop nou in al die groot stede en provinsies dwarsdeur Suid-Afrika aan te bied.
