Kriel, De Freitas is op pad na Meksiko
Christelle Kriel en Raymond de Freitas is in die Suid-Afrikaanse Swemspan wat later vanjaar aan die INAS Wêreldspele in Meksiko gaan deelneem, ingesluit.

Mpumalanga se Gestremde Sportvrou van die Jaar, Kriel het nie net 14 goue medaljes by die afgelope naweek se South African Sport Association for the Intellectually Impaired-byeenkoms (SASA II) losgeswem nie, maar sy het ook Jennifer Higgins se tyd in die 400m-vryslag van 06:18,92 wat in 2012 opgestel is, met meer as ‘n minuut verpletter.
Die 23-jarige S14-klasswemmer, is ook na afloop van die Somerspele in Polokwane, Limpopo as die top-vroueswemmer in die bad aangewys.

‘n Naam wat ook nie onbekend in die Laeveld se swemkringe is nie, De Freitas (27) het self met 10 medaljes, waarvan twee goud, twee silwer en ses brons was, teruggekeer.
Sy twee eerste plekke was onderskeidelik in die 400m-vryslag met ‘n tyd van 05:45,18 en in die 200m-vryslag het hy die stophorlosie op 02:35,93 laat lees.
Lees ook: Twee mik nog vir spele, Kriel mis dit net-net
Kriel het sedert 2015 haar tyd in die 100m-borsslag met 02,91 sekondes verbeter.
Albei die swemmers is ‘n produk van Nelspruit Swem Akademie (NSA).

“Christelle en Raymond het nie hulle tye van 2016 geswem nie, maar ek is steeds tevrede met hulle uitslae na afloop van die Somerspele. Daar is egter harde werk wat vir die twee swemmers voorlê om hulle op hul beste vir die Wêreldspele te kry,” het die afrigter van NSA, Gideon du Toit gesê.
Die INAS-spele is die grootste elite sportgebeurtenis vir atlete met intellektuele gestremdheid.
Christelle Kriel, goue medaljes
• 50m-rugslag – 37,78sek
• 400m-vryslag – 05:21,73* (verbeter Jennifer Higgins se 2012-tyd van 06:18,92)
• 100m-borsslag – 01:35,20
• 50m-vlinderslag – 35,55
• 200m-vryslag – 02:35,16
• 100m-rugslag – 01:22,87
• 50m-borsslag – 45,59
• 100m-vlinderslag – 01:18,69
• 50m-vryslag – 32,27
• 200m-borsslag – 03:23,78
• 100m-vrysslag – 01:09,45
• 200m-rugslag – 02:51,53
• 200m-individuele wisselslag – 02:54,19.
Raymond de Freitas
• 50m-rugslag, derde – 39,88
• 400m-vryslag, eerste – 05:45,18
• 100m-borsslag, derde – 01:31,22
• 50m-vlinderslag, derde – 36,69
• 200m-vryslag, eerste – 02:35,93
• 100m-rugslag, derde – 01:28,88
• 100m-vlinderslag, tweede – 01:20,76
• 50m-vryslag, vierde – 32,94
• 100m-vryslag, tweede – 01:11,03
• 200m-rugslag, derde – 03:07,03
• 200m-individuele wisselslag, derde – 03:00,17.
