Die Laeveld kan dalk nóg ‘n stoeiklub ryker word
Inkopiegangers van I'langa het Dinsdag met vreemde klanke by die winkelsentrum ingestap.

Stoeiklubs van Mbombela en Witrivier, het as deel van ‘n bemarking- en ontwikkelingsprojek, Laevelders opnuut aan die amateursport bekendgestel.
“Ons wou die sport na die publiek toe vat, omdat daar baie wanpersepsies oor die sport is. Die stoeiers gaan eersdaags ‘n soortgelyke geleentheid in KaBokweni en Riverside Mall aanbied om die sport meer blootstelling te gee,” het die hoofafrigter van Nelspruit Stoeiklub (NSK) Hansie Kruger gesê.
Lees ook: Stoeiklub in pyplyn vir Witrivier
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Lotery (SANL) het onlangs R500 000 aan die klub geskenk om splinternuwe toerusting aan te koop.
“NSK wil graag die twee verteenwoordigers van SANL, Poppie Ntuli en Tinyiko Shilen vir hulle betrokkenheid by die klub asook die bydrae wat hulle lewer om die sport te bevorder, bedank.”
Witrivier, onder leiding van Lappies Labuschagne, die afrigter Neels Smit en NSK se atlete het Dinsdag 30 opwindende wedstryde op die mat gelewer.
“Sonder Arno (Kleynhans, voorsitter), elke stoeier en ouer, sou die klub nie ‘n sukses gewees het nie. Dankie ook aan ons bemarkingsbestuurder Hanlie (Lombaard) wat ons die geleentheid gegee het om ons sport ten toon te stel.”
Lees ook: Jong stoeier wys sy staal in Egipte
Kruger beoog om nóg ‘n klub in Mbombela te begin sodat daar meer mededingende kompetisie onder die plaaslike stoeiers kan wees.


