Local sportSport

Impalas veg om Onderberg-beker te behou

Die eerste kragmeting om die Onderbergbeker was aksiebelaai en die verdedigende kampioene, die Impala Rugbyklub, het met 'n skrale twee punte oor die tuisspan, die Malelane Rugbyklub, geseëvier.

Die eerste ronde van die Onderbergbeker-uitdaging het Saterdagmiddag vir groot opwinding langs Malelane se rugbyveld gesorg.

Die Impala Rugbyklub van Komatipoort het Malelane Rugbyklub se eerstes met slegs twee punte in ‘n aksiebelaaide wedstryd geklop.

In die derde ronde van die Ehlanzeni-Laeveld Burgemeestersliga en die eerste van drie wedstryde wat hierdie jaar se wenners van die Onderbergbeker sal bepaal, het albei spanne hard geveg vir ‘n oorwinning.

Die Impalas het eerste weggebreek na die doellyn en het, ten spyte van ‘n onderskeppoging deur Malelane se Olifante, die bal eerste onder die pale gaan plant. Die drie is verdoel.

Ruven Louw van die Impalas.

Malelane het daarna verbete teruggeveg en met ‘n skrumpoging by hulle doellyn punte op die telbord probeer sit. ‘n Flink beweging deur een van die Olifante het geslaag en die span was na ‘n suksesvolle oorskop sewe punte ryker.

‘n Goedgeplaaste skop na Malelane se doellyn het spelers op die bal laat afpyl in die hoop vir nog ‘n vinnige drie. Die Impalas was egter flinker en het deur Malelane se verdediging geglip vir ‘n verdoelde drie.

Nog ‘n drie en verdoeling vir die Impalas het kort daarna gevolg.

Mfundo Mabunda mik om die Impalas te omseil.

Die Olifante was vasbeslote om nog punte te kry en het net voor rustyd die bal onder die pale gaan plant vir ‘n telling van 12-21 in die guns van die Impalas.

Die tweede helfte het die spelers met nuwe ywer op die veld gedraf. Verbete aanvals- en verdedigingspogings het gesorg dat nie een van die spanne weer tot by die doellyne kon vorder nie.

Malelane het ‘n geelkaart gekry en ‘n paar spelers is met beserings van die veld af.

Lucky Mashele mik doellyn toe met die bal, Dryke Breytenbach kort op sy hakke.

Na ‘n aanvalspoging deur Malelane wat die skare op hul voete gehad het, het die tuisspan hul derde drie van die wedstryd gekry en dit verdoel.

Ten spyte van hul veggees, was Komatipoort se verdediging te sterk in die laaste minute en kon die besoekers luid juig toe die eindfluitjie met ‘n telling van 19-21 in hulle guns blaas.

Francois Labuschagne van die Impalas probeer die Olifante se verdediging omseil.

Die Impalas vertel dat hulle die afgelope week hard geoefen het ter voorbereiding vir die uitdaging en die vrugte daarvan tydens die wedstryd kon pluk.

Arno Hoffman, Frans van der Merwe en Stefan Smit is as man van die wedstryd in die onderskeie afdelings aangewys.

Die Olifante se volgende kragmeting is Saterdag in Barberton, waar die eerste en tweede spanne in die volgende ligaronde gaan speel. Die Impalas reis Saterdag na Ohrigstad vir hulle volgende wedstryd.

Die twee spanne kom weer op 27 Mei teen mekaar te staan, dié keer in Komatipoort.

Kliek hier vir ‘n hele gallery vol aksiefoto’s van die wedstryd.

Lees meer oor die liga-wedstryde die afgelope maand:

• Rugbywedstryd summier gestaak weens vuilspel

• Tough matches kick off rugby season

• Club’s 50th celebrations start off with action-packed rugby weekend

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button