Dertien Rob atlete die naweek by SA’s
"Die sukses van ons atletiek-seisoen lê in ons skool se talentidentifiseringsprogram, massa-deelname en voorseisoenoefening in alle items."
Pragatletiek was oudergewoonte die norm tydens Hoërskool Rob Ferreira se onlangse besoek aan Secunda vir die Mussas.
Die 55 atlete wat deelgeneem het kon altesame 27 medaljes inpalm en 13 het gekwalifiseer vir die Mpumalnaga-span wat eersdaags aan die Suid-Afrikaanse Skoleatletiekkampioenskappe in Durban gaan deelneem.
Dié atlete is Junior Mondlane, Ashaan Sebastian, Markus Klopper, Thapelo Nkuna, Bobby Madonsela, Vuyo Ndlovu, Nkosana Mpinga, Tebogo Maseema, Amos Khoza, Lusanda Mbatsane, Adrian Odendaal, Tulani Lekhuleni en Christopher Thompson.
“Die sukses van ons atletiek-seisoen lê in ons skool se talentidentifiseringsprogram (Robbies sport for life), massa-deelname en voorseisoenoefening in alle items.
“Hierdie was ‘n baie groot spanpoging en ons is verheug oor die topuitslae van die afgelope paar maande, wat ook ‘n eerste Bethal Top-10-wentrofee, die Laeveld Prestige-wenbeker en die gesogte Interhoër-prestasiebeker insluit.
“Ons kan hierop voortbou en hopelik van krag tot krag gaan in die seisoene wat volg. Ons het in Secunda ook in agt items nuwe provinsiale kampioene opgelewer,” sê die skool se atletiekorganiseerder, Stefan van der Merwe.
