NHS se Rhinos trap diep spore by St John’s
Die KMI Airport Rhinos se Paul Rheeder het Maandag by St John's Kollege se Paastoernooi die wendrie teen een van Suid-Afrika se toprugbyskole, Helpmekaar, gedruk.

Die Bruinmasjien wat onder die top-10 rugbyskole in die land tel, se doppie is in die doodsnikke van die kragmeting geklink. NHS het die naelbytstryd met 18-12 gewen.
Renier Troskie het skitterspel gelewer om die Suid-Afrikaanse Skole-flank, Mark Snyman in toom te hou en die skopskoen van Stephan van der Bank wat tydens die toernooi witwarm was, se taktiese skopwerk was goud werd.
“Helpies het ‘n besonderse goeie span, maar hulle vaste fasette was op die toernooi nie so goed nie. Ons het baie hard daaraan gewerk om hulle daar te ontwrig. Dit was voorwaar ‘n spanpoging om die wedstryd te wen en alle eer moet aan God gegee word,” het NHS se breier, Gerhard Holtzhausen gesê.
Helpies se groot pak voorspelers het Nelspruit soms op die agtervoet gehad.
“Dit waaraan ons tydens oefeninge gewerk het, het die spelers oor die naweek in die wedstryde toegepas.”
Nelspruit het op die eerste dag van die toernooi teen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch te staan gekom.
“Dit was ‘n ongelooflike leerskool. Hoewel ons vaste fasette op die dag baie swak was, het Paul Roos ongelooflike rugby in die nat weer en papnat modderveld gespeel. Dit bly ‘n voorreg om teen die Kaapse skole te speel en ook om die standaard van hulle rugby te beleef.”
Lees ook: Hoërskool Nelspruit puik in Tuks-skolereeks
Op die twee dag het NHS ‘n ontwikkelingspan van Gauteng, Eye of the Tiger, met 43-0 verslaan. NHS het reeds teen rustyd ‘n voorsprong van 17-0 geniet.
Die span van Gauteng se dissipline het hulle die wedstryd gekos nadat hulle twee geel kaarte gekry het.
“Eye of the Tiger is nie ‘n sterk span nie, maar hulle speel goeie rugby. Hierdie wedstryd het vir ons die geleentheid gebied om selfvertroue na ons nederlaag teen Paul Roos, te kon opbou.”
Van die land se voorste rugbyfabrieke, soos Hoër Jongenskool Paarl, Affies, Florida en Parktown Boys High was ook oor die drie dae in aksie.

NHS meet Saterdag teen hul aardsvyande, dr. EG Jansen in die halfeindstryd van die Tuks-skolereeks, kragte.
Stephan het verlede jaar teen die Boksburg-span die wenskop deur die pale geklits om Jansies van ‘n kans om in die eindstryd te speel, te ontneem.
“Ons sit met ‘n hele paar beserings en ons hoop dat die spelers voor Saterdag sal herstel.”
Die halfeindstryde vind op Die Hoërskool Menlopark se velde plaas.


