Breier kies onervare span vir Bul-stryd
Steval Pumas se speler van die jaar, Frank Herne moet plek maak vir die voormalige haker van die Boland, Marko Janse van Rensburg vir die span se eerste wedstryd van die SuperSport-uitdaagtoernooi.
Breier, Brent Janse van Rensburg het sy 22-tal vir vandag se kragmeting, wat vyf debuutspelers insluit, teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld bekendgemaak.
Tazz Fuzani (slot) en Willie Engelbrecht (flank) is in die beginspan bo die ervare Stephan Greeff en Brian Shabangu gekies.
Lees ook: Herne behaal driekuns, speler van die wedstryd
Nóg ‘n speler wat sy plek in die beginspan kwyt is, Devon Williams word deur die Cheetah-produk, Sias Ebersohn op heelagter vervang. Debutant, Kobus Marais trek die nr.10-trui oor sy kop.
“Ons het die week aan omgekeerde balbesit gewerk en op ons vaste fasette gefokus omdat dit van die Bulle se sterkpunte is,” het Janse van Rensburg gesê.

Pote Human wat Tuks tot hul FNB Varsitybekertitel gelei, brei die Vodacom Blou Bulle vir die toernooi.
Tuksspelers soos Divan Rossouw, Joshua Stander, Rabs Maxwane, Marco van Staden, Aston Fortuin en Andrew Beerwinkel, en ervare Vodacom Bulls-spelers soos Ivan van Zyl, Tian Schoeman en Edgar Marutlulle, draf teen die Pumas uit.

Renaldo Bothma, wat die Pumas in September gegroet het, is ook in Human se begin-15-tal ingesluit.
Lees ook: Bothma voer Pumas vir eerste keer aan
“Van die spelers het Maandag ‘n klipharde stryd gehad. Ons het nie baie tyd gehad om vir die toernooi voor te berei nie en daarom bring die Varsitybekerspelers kontinuïteit tot die span. Om Superrugbyspelers op sleutelposisies in die span wat teen die Pumas speel in ons geledere te hê, is ‘n groot voordeel vir ons,” het Human gesê.

