Brooklyn dalk eersdaags op pad oorsee
Uniswim se Brooklyn Croxon (13) kan moontlik volgende jaar vir Swem Suid-Afrika oorsee in aksie wees.
Sy is na afloop van die 2017 Suid-Afrikaanse Jeugswem-kampioenskappe wat vroeër vandeesmaand by Kingspark in Durban beslis is, in die land se jeugontwikkelings-groep ingesluit.
Die 13-jarige is die enigste swemmer van Mpumalanga wat vir dié groep in aanmerking gekom het.
Lees ook: Swimming champs deliver amazing performance
Net 10% van die land se swemmers kwalifiseer om aan die jeugkampioenskappe deel te neem.
Dit was Brooklyn se eerste jaar by die land se topgala.
“Sy het besonder goed presteer as daar in ag geneem word dat dit haar eerste keer by die jeug-kampioenskappe was. Sy het onsettend hard gewerk om die kwalifiserende tye te swem,” het haar ma Magda gesê.
Brooklyn het ‘n vierde plek in die 50m-vryslag met ‘n tyd van 28,11 losgeswem. Vrystaat se Lara Pierce (17) het die item in ‘n tyd van 27,89 gewen.
Lees ook: Topswemmers deel van Grand Prix
Brooklyn het ook vyfde geëindig in die 100m-rugslag in ‘n tyd van 01:17,60. Sy was die jongste swemmer in hierdie item.
Die 2017/18-swemseisoen gaan vir haar van kardinale belang wees met die oog op insluiting in die nasionale span.
