Komati-atlete vaar goed by tweekamp-SA’s
Agt Komatipoort-atlete het gedurende die Aprilvakansie hul uithouvermoë en durf by die SA Tweekampkampioenskappe getoets.
Die 42ste SA-tweekampkampioenskappe is op 8 April gehou en 708 atlete van regoor die land het deelgeneem, van wie 26 van Mpumalanga was.
Die sport behels dat atlete eers ‘n paar kilometer hardloop voor hulle in die water induik vir die swem-been van die byeenkoms.
Ses van Komatipoort se agt deelnemers was leerlinge van Komatipoort Akademie: Sayisha-Mari Harmse en Christn Engelbrecht (o/9), Zarlia Engelbrecht en Nijinka-Lynn Harmse (o/13), Henru Heymans en WG Engelbrecht (o/15). Heymans se ouers het tydens die vakansie verhuis en die leerling het die skool verlaat.

Haywood van der Merwe was die sewende deelnemer en die o/15-atleet het vir die eerste keer die byeenkoms aangedurf.

Jan Engelbrecht, wat Komatipoort se atlete saam met sy vrou, Marita afrig, was ook onder die manhaftige deelnemers.
Dit was WG se agtste deelname aan die SA’s, Zarlia se vyfde, Henru se vierde en Jan se sewende.

Dit was die eerste jaar wat o/9s kon deelneem, en Komatipoort Akademie se Christn en Sayisha-Mari het die ys gebreek. Soos Haywood en Nijinka-Lynn was dit hulle eerste byeenkoms.

Getrou aan al SA se byeenkomste, was hierdie kompetisie en aanbieding ook van wêreldklasgehalte, vertel Jan, voorsitter van Mpumalanga Tweekamp.
Volgens Engelbrecht het van die provinsie se atlete die vorige week en die daaropeenvolgende een ook nog aan die SA driekamp, atletiek en swem deelgeneem. Tweekamp soos driekamp is ‘n leefstyl wat mense volg wat lief is vir gesond lewe en vir uitdagings groter as die gewone.

“Ons is baie trots op elke atleet. Podiumprestasies is heerlik, maar die gees van sportmanskap en gebalanseerd lewe oorheers alles. In tweekamp is daar ruimte vir almal, en laastekommers is net sulke groot helde as medaljeverkrygers. Baie kinders en hulle ouers neem deel. Dit spreek vanself,” vertel hy.
Van die Nelspruit-atlete wat in die Mpumalanga-span opgeneem is, het tydens die SA byeenkoms tweede en derde plekke in hulle ouderdomsgroepe behaal.
Die Komatipoort-atlete het almal baie goed gevaar en volgens die afrigters, is hulle almal wenners.
Jan, Marita en die ander bestuurslede bedank graag die span se borge: Delta Clearing en RCL lokaal, en Magnum Metal van Middelburg, asook BUCO wat vir elke speler ‘n botteltjie water geskenk het.

Volgende jaar is die SA byeenkoms in Pretoria en belangstellendes word genooi om Mpumalanga Tweekamp se bestuur te skakel as hulle deel van die opwindende sport wil word.
