NHS se nuwe sportfasiliteite onlangs in gebruik geneem
Hoërskool Nelspruit het verlede Maandag sy splinternuwe sportfasiliteite aan ouers en vriende van die skool bekendgestel.
Die Astro-hokkieveld, bykomende netbalbane en die B-rugbyveld is amptelik met vriendskaplike vertoon-wedstryde in gebruik geneem.
Die hoofwedstryd is tussen NHS se eerste seunshokkiespan en dié van Christian Brothers’ College in Boksburg gespeel, nadat daar ‘n seremoniële lint geknip is om die veld amptelik te open.
NHS is ‘n dinamiese skool wat op alle terreine na uitnemendheid streef. Die daarstelling van fasiliteite van hoogstaande gehalte dra daartoe by dat die skool in gerekende kringe as een van die toonaangewendste skole in Suid-Afrika beskou word.
Leerders se drome kan nou vleuels kry. Op sportgebied bied die nuwe Astro-hokkieveld, bykomende rugbyveld en twee netbalbane nie net die geleentheid vir meer gereelde oefeninge nie, maar verseker verhoogde deelname deur die uitbou van B- en C-spanne. Verder sal die Astro ‘n daadwerklike bydrae tot die gehalte van NHS-hokkie lewer en provinsiale en nasionale aandag geniet.
Maar dit is met harde werk deur personeel, ouers, leerders en die breë gemeenskap wat hierdie spogfasiliteite beskikbaar gestel kan word.
Hoërskool Nelspruit loods nie voortdurend fondinsamelingsaksies nie, maar vyfjaarliks – een maal in ‘n leerder se hoërskoolloopbaan word daar ‘n fiësta gehou om fondse in te samel.
Die geld word gebruik vir die finansiering van kulturele aktiwiteite, die voorsiening en instandhouding van sportgeriewe soos die nuwe Astro-veld, netbalbane en rugbyveld asook bestaande fasiliteite, die verfraaiing van die terrein en die aankoop van opvoedkundige hulpmiddels.
Dit is dus vir Hoërskool Nelspruit ‘n riem onder die hart om te weet dat ons die gemeenskap se ondersteuning geniet.
“Ons glo dat ons nuwe fasiliteite op die beurt ook ‘n heilsame uitwerking op die gemeenskap sal hê.
Hierdie eiesoortige fasiliteite spreek verskeie behoeftes in die gemeenskap aan, en sal ook kundige personeel en leerders na die Laeveld lok,” sê die skoolhoof, dr. Louis Swanepoel.
As deel van die oorhoofse projek word daar ook tans aan ‘n veeldoelsentrum gebou wat weer ‘n verskeidenheid geleenthede vir die ontwikkeling van kinders op kulturele gebied bied en wat vir die aanbied van verskeie aktiwiteite aangewend sal word.
Die dagsentrum wat deel van die fasiliteit is, bied ‘n veilige hawe vir leerders buite skoolure. ‘n Verdere bate is die tuiste wat vir die museum, oudleerder- en ondersteunersbond gebied word. Op hulle beurt ploeg hulle waarde terug in die voortbestaan van NHS.
“Dit is vir Hoërskool Nelspruit ‘n besondere voorreg om met rolspelers wat die dinamika van groei en vooruitgang van suksesvolle onderwys verstaan, geassosieer te word, en ons ondersteuners se lojaliteit word hoog op prys gestel,” sê Swanepoel.








