Mpumalanga se seniorspan nou in A-liga
Hoërskool Nelspruit se veelsydige sportdogter, Marné van Aarde was lid van die Mpumalanga-span wat die B-afdeling van die interprovinsiale hokkietoernooi in Randburg gewen het.
Die span, wat uit vyf plaaslike spelers, Marné, Ladya van Antwerpen, Elané van Dijk, Nicole Merryweather en Lenthea Kamffer ingesluit het, het Oostelike Provinsie in die eindstryd met 3-1 geklop.
Lenthea het twee doele vanuit ‘n strafhoek in die hok gemoker. Debby Davey het ‘n doel in die 46ste minuut aangeteken en van daar af was dit neusie verby vir die vroue van die Oostelike Provinsie.
Met hierdie oorwinning het Mpumalanga hulle plek vir volgende jaar in die A-afdeling bespreek.
Om die titel te wen was egter makliker gesê as gedaan. Hoewel Mpumalanga hul eerste kwalifiserende stryd teen SACD B met 7-0 gewen het, was die daaropvolgende kragmetings ‘n senutergende affêre.
Nuggets was volgende op Mpumalanga se kerfstok.
Lenthea (twee doele) het haar span tot ‘n oorwinning van 4-2 gelei.
In die span se derde kwalifiserende wedstryd, het hulle teen Boland te staan gekom.
Boland het eerste punte kort nadat die fluitjie vir die aanvang van die wedstryd geblaas het, op die telbord aangeteken.
Mpumalanga se kaptein, Vere Bonita het kort daarna teruggeslaan en Nicole het haar span se wendoel ingemoker.
Lees ook: Verskeie sport-sterre by NHS
Die spanning het veral in die kwart- en halfeindstryd begin oplaai.
Die kwarteindstryd teen SACD was ‘n riller. Na 60 minute, was die telling 0-elk.’n Uitskietstryd het die spanne se lot bepaal met Mpumalanga wat drie uit vyf teenoor SACD se een doel, ingeskiet het.
KwaZulu-Natal het in die kwarteindstryd vir die span van Mpumalanga gewag.
Die eindtelling was 2-elk en weer moes ‘n uitskietstryd die wenner bepaal. Mpumalanga het met 2-1 geseëvier.

